Ons nasie rou oor die verlies van jong lewens in die Enyobeni taverne-tragedie

Vukuzenzele Unnamed

Die gesinne in ŉ township in Scenery Park buite Oos-Londen het ŉ paar weke gelede die nuus ontvang waarteen elke ouer bid.
Hulle is ingelig dat 21 van hul kinders dood gevind is in ŉ taverne. Die jongste was slegs 13 jaar oud.
Die polisie-ondersoek na die tragedie is onderweg. As deel van die ondersoek bepaal die Buffalo City Metro tans of die taverne enige munisipale regulasies oortree het.
Ons gedagtes en gebede is met die gesinne wat sukkel om sin te maak van die onbeskryflike skok.
Ons loof die Oos-Kaapse provinsiale regering vir die ondersteuning wat hulle aan die gesinne verleen asook AVBOB wat hulself daartoe verbind het om die gesinne met die begrafnisse by te staan.
Daar is, selfs terwyl die betrokke owerhede agter die kap van die byl kom oor wat gebeur het sodat geregtigheid vir die slagoffers kan geskied, ŉ gesprek wat ons as land dringend moet voer. Dit is die probleem van minderjarige alkoholverbruik.
Die video-opnames en -beelde wat aanlyn versprei is van die sogenaamde “pens down”-partytjie wat daardie aand by die taverne gehou is, toon luidrugtige jongmense wat met bottels alkohol rondkuier. Baie van diegene in die foto’s lyk skaars ouer as tieners.
ŉ Aantal jongmense van Scenery Park het aan die media vertel dat hulle ŉ plasing op sosiale media gesien het wat gratis rondtes alkohol aan almal bied wat die partytjie die aand sou bywoon.
Die verhoogde maatskaplike aanvaarbaarheid van jongmense wat alkohol gebruik het ontaard in ŉ ernstige probleem in ŉ land waar die meerderheid van die bevolking wat alkohol verbruik reeds deur die Wêreldgesondheidorganisasie as fuifdrinkers ( “binge drinkers”) geklassifiseer word.
Alkoholverbruik onder adolessente gaan gepaard met verswakte funksionering, afwesigheid in skole, alkoholverwante beserings, selfmoordgedagtes en -pogings asook waaghalsige gedrag.
Ons moet saamstaan teen dié misdryf wat ons jongmense van die beste jare van hul lewens beroof en hulle ontvanklik maak vir alkoholverslawing.
As gesinne beteken dit dat daar oop en eerlike gesprekke oor die gebruik van alkohol en die stel van perke gevoer moet word. Kinders onder die ouderdom van 18 wat alkohol gebruik is teen die wet.
Ons moet, as volwassenes, onsself weerhou van die gebruik om minderjariges te stuur om alkohol vir ons te gaan koop en weier om namens dié jongmense alkohol te koop.
Dit is nie die eerste keer wat ons te staan kom voor tragiese gebeure soos wat laasweek in Scenery Park plaasgevind het.
Die Enyobeni-taverne, die Throb-nagklubramp in Durban in 2000 en die Osi’s-taverne-tragedie in Khayelitsha in 2015 het een ding in gemeen — dié kuierplekke het drank aan minderjariges verkoop.
Die vervuiling van kuierplekke en drankwinkels wat die wet openlik tart toon duidelik hoe die owerhede daarin faal om regulasies af te dwing.
Eienaars van ondernemings met dranklisensies mag, ingevolge die Nasionale Drankwet, geensins alkohol aan enige persoon onder die ouderdom van 18 verkoop nie. Hulle moet ook redelike stappe neem om te verseker dat enige persoon waaraan hulle alkohol verkoop, mondig is.
Ons doen ŉ beroep op gemeenskappe om saam met die owerhede te werk om te verseker dat tavernes, sjebiens, vermaaklikheidsplekke en verkooppunte wat dié wette oortree, die gevolge daarvan dra.
Ons doen ŉ beroep op ons polisie om strenger op te tree in die toepassing van wetgewing wat die verkoop van alkohol naby skole verban asook om sulke verkoopspunte fyn te monitor om te verseker dat alkohol nie aan minderjariges verkoop word nie.
Nog ŉ realiteit is dat alkohol ŉ vorm van ontvlugting vir jongmense is in gemeenskappe waar daar min geleenthede vir veilige en ouderdomsgepaste ontspanning bestaan.
Die Scenery Park-gemeenskap het die gebrek aan sport-, leer- en ander ontwikkelingsfasiliteite vir jongmense uitgewys, wat lei tot gedrag van kroegkruip (“tavern hopping”).
Die gemeenskap het, na die tragedie, die gebrek aan bruikbare sportsgronde, gemeenskapbiblioteke of jeugsentrums in Scenery Park uitgewys.
Ons moet, as regering op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak op die pleidooi van dié gemeenskap en dié van ander gemeenskappe reageer deur meer ruimtes vir ontspanning, fasiliteite, programme en projekte vir ons jongmense in minderbevoorregte gebiede in die provinsie te ontwikkel.
Ander maatskaplike vennote soos sakelui behoort ook bystand te verleen in die vorm van borgskappe.
As gemeenskappe moet ons in samewerking met ons gemeenskapspolisiëringsforums, ons burgerlike organisasies en skoolbeheerliggame tree en ŉ meer aktiewe rol in die lewens van ons kinders en om hul veiligheid en welstand te verseker, speel.
Soos die klassieke Afrika- gesegde lui: “dit verg ŉ gemeenskap om ŉ kind groot te maak”.
Kom ons werk saam om ons kosbare toekomsgenerasie teen die verwoesting van alkohol- en dwelmmisbruik en die gevolge daarvan te beskerm.
Kom ons werk saam om te verseker dat diegene wat wins bo die lewens van ons kinders stel nie toegelaat word om dit te doen nie.
Kom ons stel ook ŉ positiewe voorbeeld deur ons eie verhouding met alkohol.
Kom ons wees die bewaarders van nie net ons eie kinders nie, maar ook die kinders van die gemeenskap waarin ons leef.  