Die misbruik van kindertoelae is onwettig

More Matshediso

As jy weet dat die kindertoelaag wat deur ŉ versorger ontvang word, misbruik word, het jy die verantwoordelikheid om die saak by die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (SASSA) aan te meld.
Volgens die woordvoerder van SASSA, Paseka Letsatsi, word die kindertoelae aan die sorggewer betaal, maar is bedoel vir die versorging van die kind. Die toelaag is tans R480 per maand per kind.
Die kindertoelaag is deur die regering ingestel om finansiële ondersteuning te bied aan kinders wat in arm huishoudings grootword.
“Sodra misbruik aangemeld word, word daar ŉ ondersoek geloods. Indien die ondersoek bevind dat die geld nie tot voordeel van die kind dien nie, kan SASSA iemand anders aanwys om die toelae namens die kind te ontvang en te administreer,” sê Letsatsi.
Hy voeg by dat dit van kritieke belang is dat die primêre versorger wat werklik op ŉ dag-tot-dagbasis na die kind omsien, die geregistreerde beguns- tigde is. “In die geval waar ŉ kind van een versorger na ŉ ander oorgeplaas word, is die toelaag veronderstel om die kind te volg. Daar word van die oorspronklike versorger verwag om aan SASSA te rapporteer dat die kind nie meer in sy/ haar sorg is nie, en die nuwe primêre versorger moet dan inkom om vir die toelaag aansoek te doen,” sê Letsatsi.
Letsatsi sê dat daar van mense wat voortgaan om die kindertoelae te ontvang nadat die kinders nie meer in hulle sorg is nie, verwag sal word om die bedrag wat hulle sodoende wederregtelik ontvang het, terug te betaal. Hulle kan ook krimineel vervolg word as daar bewys kan word dat hulle die Staat opsetlik bedrieg het.
Dieselfde gevolge is van toepassing op mense wat die afhanklikheidstoelae misbruik — wat toegeken word deur SASSA om finansiële ondersteuning te bied aan kinders met ernstige gestremdhede wat voltydse sorg vereis, ongeskiktheidstoelae of ouderdomstoelae.
“Indien die geld gebruik word vir alkohol, dwelms of dobbelary, en nie vir die onderhoud van die persoon wat vir die toelaag kwalifiseer nie, behoort dieselfde proses gevolg te word,” sê Letsatsi.
Wie kan vir die kindertoelaag aansoek doen? 
Volgens Letsatsi, kan enige Suid-Afrikaanse burger, iemand met permanente verblyfreg, of gedokumenteerde vlugteling wat vir ŉ kind sorg — of dit sy of haar biologiese kind is of nie — aansoek doen vir ŉ kindertoelaag op voorwaarde dat hy of sy aan onderstaande kriteria voldoen:     • Die kind en versorger moet permanent in Suid-Afrika woon.
• Die versorger moet 16 jaar oud wees (in die geval van kinderhoof- huishoudings) of ouer.
• Die kind moet jonger as 18 wees.
• Die ontvanger van die toelaag moet die kind se primêre versorger wees en die kind moet by hom of haar woon.
• Die ontvanger moet voldoen aan die vereistes van die middeletoets (inkomstetoets). 
Indien die primêre versorg- er enkellopend is (nog nie voorheen getroud, geskei of eggenoot afgesterf nie), moet sy/haar inkomste nie meer as R4 800 per maand wees nie.
Indien die primêre ver- sorger getroud is, moet die gesamentlike inkomste van die aansoeker en sy/haar eggenoot nie meer as R9 600 per maand wees nie.
Die eggenoot se inkomste sal in alle gevalle oorweeg word — ongeag of die egpaar binne of buite gemeenskap van goedere, of onder gewoonte- of Asiatiese gebruike getroud is, of in ŉ burgerlike verbintenis is, of indien die aansoeker en sy of haar eggenoot nie die kind se geboorte-ouers is nie.
Om misbruik van toelae aan te meld, skakel, SASSA by 0800 60 10 11 (tolvry).