Stygende lewenskoste vereis ŉ verenigde reaksie



Suid-Afrikaners is oor die laaste paar maande hard geslaan deur skerp prysstygings wat hul lewenskwaliteit dramaties beïnvloed het. 
Dit word toenemend duurder om kos en ander noodsaaklikhede te koop, vir basiese dienste te betaal en van openbare en private vervoer gebruik te maak. 
Alhoewel dié stygende koste almal affekteer, raak dit lae-inkomstehuishoudings die meeste. 
Die jongste verbruikersprysindeks vir April 2022 wat deur Statistiek Suid- Afrika gepubliseer is, toon dat daar min verligting vir vuisvoos Suid-Afrikaners is. Voedselinflasie staan op 6,2%. Die mees basiese voedselsoorte kos meer as ŉ jaar gelede, met stapelvoedsel soos kookolie wat die meeste gestyg het. 
Die prys van brandstof, wat omtrent alle ander produkte beïnvloed, het in die twaalf maande tot Maart 2022 met ŉ derde gestyg. 
Suid-Afrika staan egter nie alleen in dié verband nie. 
ŉ Onlangse opname vir die Wêreld-ekonomiese forum wat gepubliseer is, toon dat ongeveer ’n kwart van alle mense wêreldwyd, waaronder diegene in ontwikkelde ekonomieë, finansieel sukkel weens stygende pryse. 
Dié styging in pryse, veral die prys van brandstof, is die gevolg van gebeure waaroor ons baie min beheer het. Die voortgaande konflik tussen Rusland en die Oekraïne het ŉ beduidende impak op die prys van brandstof en voedsel gehad. Beide lande is groot uitvoerders na internasionale markte van kunsmis, graan en oliesade wat nodig is ŉ vir hele reeks produkte, waaronder kookolie. 
Nog ŉ faktor is laer landbou-uitsette weens ekstreme weerstoestande wat veroorsaak is deur klimaatsverandering, waaronder oorstromings en droogte. 
Terwyl baie van dié gebeure buite ons beheer is, doen die regering alles wat hy kan om Suid-Afrikaners teen huidige en toekomstige prysstygings te beskerm. 
Een van die voordele vir ons as ŉ land, is ŉ sterk, onafhanklike Reserwebank wat daarin kon slaag om inflasie binne ŉ nou teikenreeks te hou – heelwat laer as wat baie ander lande kon regkry. 
Ons het onlangs aangekondig dat die brandstofheffing vir nog twee maande tot Augustus opgehef sal word, wat ŉ mate van verligting vir huishoudings sal bring. 
Die opheffing van die brandstofheffing het noodsaaklike verligting aan Suid-Afrikaners gebring sedert dit in April ingestel is. Aangesien die opheffing van die brandstofheffing ŉ beduiende koste vir die staatskas inhou, wat weer ander regeringsprogramme beïnvloed, sal dit moeilik wees om onbepaald daarmee voort te gaan. 
Daar is egter ander goed wat ons kan doen. 
Die verbetering van ons land se voedselsekerheid is noodsaaklik om die huidige en toekomstige skokke die hoof te bied. Ons het ŉ sterk landbousektor wat voortdurend groei en werk skep. 
Om landbouproduksie nog meer te laat toeneem en ons voedselonafhanklikheid te versterk, is ons besig om op grootskaal te belê in die verbetering van ons plaaslike kapasiteit, om kommersiële en kleinboere te ondersteun en om meer mense te help om hulle eie voedsel te kweek. 
Insetbewyse is deur die presidensiële indiensnemingstimulus aan meer as 65 000 kleinboere gegee, en werk word tans gedoen om 250 000 sodanige boere te bereik. Die regering voorsien ook kunsmis en toerusting aan bestaansboere om voedsel te produseer, en help groepe en individue om hulle eie groentetuine te begin. In provinsies soos Noordwes word kleinboere ondersteun deur “landboubeginnerspakkette” bestaande uit saailinge en pluimvee, in vennootskap met plaaslike landboukolleges. 
Deur middel van die Proaktiewe Grondverkrygingstrategie en die vrystelling van grond in staatsbesit vir landbou, ondersteun ons meer kleinboere om hulle besighede uit te brei en kommersieel suksesvol te maak. Ons fokus ook daarop om meer staat-privaat vennootskappe te vestig om die uitbreiding van swart kommersiële boerderye te ondersteun deur inisiatiewe soos die Partners in Agri Land Solutions en die Landbou-ontwikkelingsagentskap. 
Ons is besig om ons maatreëls vir die vervoer van diere op te skerp en ons vermoë om entstowwe te vervaardiging, uit te brei, om biosekuriteit te bevorder en dieregesondheid teen siektes soos bek-enklouseer, te beskerm. 
Behalwe om die plaaslike vervaardiging van voedselproduksie ŉ hupstoot te gee, help ons ook die armes teen prysstygings beskerm deur ons omvattende maatskaplike toelaagstelsel en die nulgradering van basiese goedere. Ons kan, deur middel van gratis basiese dienste soos water en elektrisiteit vir behoeftige huishoudings, seker maak dat geen gesin sonder basiese dienste is nie. 
Om deur dié moeilike tydperk te kom, moet die hele samelewing betrokke raak. 
Wat die regering betref, sal ons voortgaan om die situasie fyn dop te hou en alles binne ons vermoë doen om Suid-Afrikaners teen die onvolhoubare styging in lewenskoste te beskerm. 
Korporatiewe Suid-Afrika behoort seker te maak dat verbruikers nie meer as wat nodig is vir voedsel betaal nie. Ons verwelkom die aanduiding van voedselvervaardigers en kleinhandelaars dat hulle besig is om maatreëls in plek te stel om verbruikers te help om meer waarde vir hulle geld te kry. 
Mededingingskommissie het in Maart vanjaar, die opdrag vir publieke kommentaar vir ŉ markondersoek na die varsproduktemark bekendgestel. Hulle het waargeneem dat die koste van vars produkte bly toeneem het teen vlakke bo inflasie, en dat dit ŉ disproporsionele uitwerking op die armes gehad het. Die ondersoek sal vasstel of daar enige afwykings in die waardeketting is wat voedsel duurder maak. 
Ons sal ons mededingingsbeleid aanwend om verbruikers teen onregverdige prysverhogings en onmededingende praktyke deur besighede te beskerm, soos wat ons tydens die KOVID-19 pandemie gedoen het. 
Dié pogings sal ondersteun word deur die voortgaande proses van strukturele hervorming van ons ekonomie. Hervorming in die energie-, vervoer- en telekommunikasiesektore poog om die koste van elektrisiteit, logistiek en data oor die langtermyn deur middel van groter mededingendheid en doeltreffendheid te verlaag. 
Ons behoort in die toekoms minder, en nie meer nie, vir dié dienste, te betaal. 
Alhoewel die olieprys en ekstreme weerstoestande gebeure is waaroor ons baie min beheer het, is daar nog steeds baie wat ons as regering, sakelui, arbeidsmark en gemeenskappe kan doen om die mense van Suid- Afrika deur dié moeilike tyd te help. 
 
