Die heropbou van lewens en lewensbestaan na die vloede 

Vukuzenzele Unnamed

Dit is byna twee maande sedert die swaar vloede chaos in dele van KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en NoordKaap en grootskaalse lewensverlies en skade aan eiendom en infrastruktuur veroorsaak het.
Ek het onlangs besoek afgelê by eThekwini in KwaZulu-Natal om sakelui in die stad te ontmoet om ondersteuning te bied aan hulle pogings om weer op die been te kom.
Toe dié natuurramp hulle getref het, was daar besorgdheid dat die owerhede nie die kapasiteit of die wil het om doeltreffend en gepas te reageer op die verskriklike situasie waarin die mense wat alles verloor het, hulle bevind nie.
Na my tweede besoek aan die stad sedert die oorstro mings plaasgevind het, is ek oortuig dat die besorgdheid misplaas was. In KwaZulu-Natal, so ook in die Oos-Kaap en Noordwes, is alle belanghebbendes hard aan die werk om van dié tragiese gebeure te herstel.
Die Nasionale Rampbestuursentrum het sedertdien alle aspekte van die rege ring gekoördineer in hulle poging om humanitêre hulp te verleen aan die talle huishoudings wat geraak is. Dit was ŉ plesier om te sien hoe die nieregerings organisasie-gemeenskap, sakegemeenskap en noodlenigingsorganisasies by die regering aansluit om die broodnodige bystand  te verleen.
Al dié belanghebbendes het voedsel, klere, kom berse, waardigheidspakkies en skooluniforms aan kwesbare gesinne verskaf om in hulle basiese behoeftes te voorsien. Skuiling word tans voorsien aan meer as 7 000 mense in die vier distrikte in KwaZulu-Natal wat die meeste geraak word. Bouwerk aan tydelike wonings vir die geaffekteerde gesinne het begin en staatsgrond en grond is in KwaZulu-Natal geïdentifiseer vir moontlike hervestiging.
Die Departement van Binnelandse Sake, asook die Departement van Gesondheid en die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling het die geaffekteerde gemeenskappe gehelp om toegang tot belangrike dienste te kry.
Byvoorbeeld,  mobiele eenhede help diegene wat kritiese dokumentasie in die oorstromings verloor het, om nuwe slim ID’s te kry en om geboortesertifikate weer uit te reik. Mobiele gesondheidsdienste, insluitend KOVID-19-inentings, word voorsien aan mense in gebiede waar die fisiese aktiwiteite nog nie ten volle operasioneel is nie. Meganismes is in plek gestel om die maatskaplike toelae aan die betrokke individue uit te betaal.
Mobiele klaskamers word verkry sodat onderrig en leer nie langer as wat nodig is in die vloedgeteisterde skole onderbreek word nie.
Herstelwerk vind tans aan rioolwaterwerke, pompstasies en retikulering plaas.
Paaie wat beskadig is, word herstel. Daar word agtien nuwe brûe beplan as deel van die Welisizwe landelike brugprogram.
Daar is ook aansienlike vordering gemaak in die herstel van sleutelinfrastruktuur wat aan die Durbanse hawe ondersteuning bied.
Gegewe die belangrikheid van die hawe vir die nasionale en kontinentale ekonomie, is haweverkeer herstel, terminaalaktiwiteit weer op vol kapasiteit en herstelwerk aan die beskadigde spoorinfrastruktuur is aan die gang.
Bykomende  maatreëls word ook in plek gestel om finansiële ondersteuning te bied aan sowel groot as klein sakeondernemings wat in die nood is. Dit is dringend nodig sodat besighede in bedryf kan bly en poste behou word.
Ons is al op verskillende stadiums in die geskiedenis van ons demokrasie gekonfronteer met gebeure en omstandighede wat die deursettingsvermoë van ons mense en die doeltreffendheid van ons instellings tot die uiterste beproef het.
Ons het buitengewone meelewendheid en ondersteuning aan die geaffekteerde gemeenskappe in KwaZulu-Natal, die OosKaap en Noordwes gesien.
Munisipale en provinsiale regerings werk nou saam met nasionale departemente en agentskappe om mense in staat te stel om hulle lewens weer op te bou en die plaaslike ekonomie weer aan die gang te kry.
Hulle het saam met al die rolspelers in al dié gebiede gewerk om seker te maak dat ons die herstelpogings doeltreffend koördineer en dat ons op ŉ wyse beplan en herbou wat meer veerkragtig is in die geval van sodanige uiterste gebeure in die toekoms.
Die wilskrag van die geaffekteerde gemeenskappe, hulle vasberadenheid om te slaag en hulle vermoë om saam te staan in krisistye, is ŉ inspirasie. Ons salueer almal wat deel was van die poging om die mense in die geaffekteerde provinsies te help.
As regering mobiliseer ons al die beskikbare hulp bronne en doen ons alles in ons vermoë om seker te maak dat, soos ons besig is om te herbou, niemand agtergelaat word nie.
