Veg teen misdaad, nie teen migrante 

Vukuzenzele Unnamed

Ons nuwe demokratiese Grondwet het 25 jaar gelede tot stand gekom.
Met die instelling van dié Grondwet het ons ons toewyding bevestig tot ŉ samelewing geskoei op demokratiese waardes, maatskaplike geregtigheid en menseregte.
Ons het ons ook met die verlede verbreek. Daardie verlede het rassegebaseerde maatskaplike ordening behels wat aan die dag gelê is deur toevloeibeheer, werkstoekenning, groepsgebiede en die gevreesde dompas.
Toe ons voorvaders die Vry heidshandves, waarvan die beginsels in ons Grondwet opgeneem is, in 1955 opgestel het en verklaar het dat Suid-Afrika aan almal wat in die land woon behoort, was hulle doel ŉ samelewing sonder etniese chauvinisme, stamorganisasie, rassisme en seksisme.
Dit is dus verontrustend hoe die onlangse gevalle van sentiment teen buitelanders in dele van die land ŉ weerklank is van daardie verlede van apartheid.
Ons het gesien hoe mense deur private landsburgers op straat gestop word en geforseer word om hul immigrasiestatus te verifieer.
Ons het gesien hoe sekere politieke leiers onwetenskaplike stellings maak oor immigrante om mense se besware vir politieke gewin uit te buit.
Ons het gesien hoe mense opgesweep word om mense se huise en besighede binne te val vir bewyse van kriminele aktiwiteit. Ons het gesien hoe mense aangeval word, aangerand word en selfs doodgemaak word na  aanleiding van hoe hulle lyk of omdat hulle ŉ spesifieke aksent het.
Dit is wat apartheid se onderdrukkers gedoen het.
Hulle het gesê mense mag net in sekere gebiede woon, sekere besighede bedryf en sekere werke doen. Swart mense was onder apartheid vanselfsprekend onder verdenking en is deur die polisie gestop as hulle in sogenaamde wit gebiede gevind is. Swartmense is geforseer  om  ŉ  dompas te toon en as hulle nie een gehad het nie, is hulle in die tronk gegooi.
Ons kan nie toelaat dat sulke ongeregtighede weer plaasvind nie.
Die onlangse gebeure in die Gautengse township Diepsloot was ŉ tragedie.
Sewe mense is in die bestek van ŉ enkele naweek doodgemaak, wat tot protesaksie gelei het. Dié lewensverlies is betreurenswaardig, net soos die moord op ŉ medeAfrikaan van Zimbabwe, na bewering in ŉ vigilanteaanval.
Misdaad is ŉ ernstige probleem in dié land. Dit raak alle gemeenskappe en mense is na regte moeg daarvoor om in vrees vir misdadigers te leef.
In teenstelling wat deur sommige anti-immigrasiegroepe en individue beweer word, word misdaad deur beide swart en wit, mans en vrouens, landsburgers en buitelanders gepleeg.
Misdaad, nie migrante nie, is die gemeenskaplike vyand waarteen ons moet saamstaan en veg.
Ons kan nie misdaad bestry met opsweping, geweld, intimidasie en vigilantisme teen buitelandse inwoners, spesifiek inwoners van ander Afrika-lande, nie. Ons besef dat baie gemeenskappe gefrustreerd is deur die skynbare onvermoë van die polisie om met misdadigers af te reken. Een van die mates wat ons onderneem het om die polisiemag se kapasiteit te vergroot is die werwing van ŉ bykomende 12 000 polisiebeamptes.
Ons is ook besig om weer gemeenskapspolisiëringsforums regoor die land in te stel. Dié forums bring gemeenskappe en polisieverteenwoordigers byeen om plaaslike veiligheid te bevorder en die polisie aanspreeklik te hou.
Met dié dat ons ons stryd teen misdaad verskerp, is daar geen regverdiging vir mense om die reg in eie hande te neem nie.
Ons besef dat onwettige migrasie ŉ risiko vir Suid-Afrika se sekuriteit, stabiliteit en ekonomiese vooruitgang behels.
Onwettige migrasie beïnvloed dienslewering en plaas bykomende druk op noodsaaklike dienste soos gesondheidsorg en onder wys.
Soos enige onafhanklike nasie het ons die reg om beleide en maatreëls te implementeer om die integriteit van ons grense te waarborg, die regte van Suid-Afrikaners te beskerm en aan te dring dat alle persone wat in die land woon wetlik die reg het om hier te wees.
Die beheer van migrasie is die verantwoordelikheid van die regering.
Geen private landsburger mag die rol van die immigrasieof regstoepas singsowerhede inneem deur daarop aan te dring dat buitelandse burgers identifikasie verskaf nie.
Kragtens Artikel 41 van die Wet op Immigrasie kan slegs ŉ polisielid of immigrasiebeampte iemand versoek om  hulself  as  ŉ  lands burger, permanente inwo ner of buitelandse burger te identifiseer.
Indien dié beamptes vermoed, gebaseer op redelike gronde, dat die persoon onwettig in die land is, mag hulle aangehou word terwyl ŉ ondersoek na hul status ingestel word. Wetstoepassingsowerhede moet tydens só ŉ ondersoek die persoon se regte en waardigheid res pekteer.
Die toepassing van migrasiewetgewing is vir die regering ŉ prioriteit. Ons werk daaraan om te verseker dat daar met sindikate wat in samewerking met korrupte  beamptes immigrasiebedrog pleeg, afgereken word.
Soos alle ander besighede, moet besighede wat deur buitelanders bedryf word die toepaslike wette nakom, waaronder gesondheidsen veiligheidsmaatreëls, alle vereiste permitte en lisensies hê asook die nodige belasting betaal.
Ons  is  ŉ  demokrasie geskoei op die oppergesag van die gereg. Wetteloosheid gemik op buitelanders, met of sonder die nodige dokumente, sal nie geduld word nie.
Ons woede is dalk van gerig op mense van Zimbabwe, Mosambiek, Nigerië of Pakistan. More kan ons woede op mekaar gemik wees.
Kom ons fokus eerder daarop om midsdaad te bestry, ongeag deur wie dit gepleeg word.