Vloedverligting vir KZN en Oos-Kaap

Allison Cooper

Die regering sal inwoners van KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap help om hul lewens en wonings te herbou nadat onlangse vloede in die twee provinsies erge lewensverlies en verwoesting veroorsaak het.
President Cyril Ramaphosa het aangekondig dat die Nasionale Tesourie fondse vir verligtingspogings beskik baar sal stel om hulp te verleen aan diegene wat deur die vloede geraak is.
“Die minister van finansies het aangedui dat R1 miljard onmiddellik beskikbaar is,” het die President gesê.
President Ramaphosa sal ook die Parlement nader vir bykomende hulpbronne.
Die regering werk saam met die Solidariteitsfonds, die privaatsektor en nie-regeringsen gemeenskapsgebaseerde organisasies om slagoffers by te staan. Die Solidariteitsfonds sal ŉ aparte bankrekening vir die vloedramp oopmaak sodat Suid-Afrikaanse en internasionale skenkers tot die verligtingspogings kan bydra. Die regering sal ook geskenkbewyse verskaf om huishoudings te help om gedeeltelik-beskadigde huise te herbou, het die President gesê.“ŉ Omvattende assessering  van die ekonomiese koste van dié vloede moet nog gedoen word, maar dit is duidelik dat die herbou van infrastruktuur en verlies aan produksie bil-joene rande sal beloop.”
Hy het bygevoeg dat die geld wat opsy gesit word vir die vloedslagoffers diegene moet bereik wat dit die meeste benodig.
“Dit sal krities wees, wanneer ons dié taak onderneem, dat alle hulpbronne wat ons mobiliseer wel aangewend word vir die doel waarvoor dit bestem is en mense vir wie dit bestem is, bereik. Daar kan geen ruimte wees vir korrupsie, wanbestuur of bedrog van enige aard nie,” het die President benadruk.
Drie-fase reaksie
President Ramaphosa het gesê dat die regering se reaksie op die ramp in drie fases sal plaasvind.
Daar sal eerstens ŉ fokus wees op onmiddelike humanitêre verligting om te verseker dat almal wat deur die vloede geraak is, veilig is en dat daar aan hul basiese behoeftes voldoen word.
“Tweedens sal ons fokus op stabilisering en herstel deur behuising te verskaf aan mense wat hul wonings verloor het en die herstel van dienslewering. Derdens sal ons fokus op herkonstruksie en herbou,” het hy gesê.
Die herkonstruksieen herbou-fase sal die oprigting van huise in geskikte gebiede insluit.
Die departement van menslike nedersettings het reeds met ŉ assessering van die skade aan behuising regoor die provinsies, begin.
“ŉ Onmiddelike taak is om behuising te verskaf aan die mense wat deur die vloede dakloos gelaat is en voorbereiding is onderweg om tydelike behuisingseenhede te verskaf,” het President Ramaphosa gesê.
Die departement van openbare werke en infrastruktuur is besig om geskikte staatsgrond te identifiseer wat vir hervestiging gebruik kan word.
Grootskaalse skade
Die reën het grootskaalse skade aan huise, besighede, paaie en brûe, asook water-, elektrisiteit-, spooren telekommunikasie-infrastruktuur veroorsaak. Skole, gesondheidsorgfasiliteite, polisiestasies en land droshowe is ook geraak, asook brandstofen voedselvoorraad.
“Na beraming is meer as 270 000 leerders geraak en meer as 600 skole beskadig; daar is geen toegang tot 16 van hierdie skole nie weens skade aan paaie en brûe.
“Ses-en-sestig openbare gesondheidsorgfasiliteite is geraak, alhoewel daar minimale onderbrekings in gesondheidsorgdienste in die meeste van die geraakte distrikte is,” het die President gesê.
Breedvoerige werk is onderweg om basiese dienste in verskeie dele van KZN te herstel.
Meer as 400 mense in KZN het hul lewens verloor en baie mense word vermis. Een sterfte is ook in die Oos-Kaap aangeteken.
Meer as 4 000 huise is vernietig en 8 300 is gedeeltelik beskadig, met 40 000 mense wat dakloos gelaat is.
Die President het gesê dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) reddingsoektogte gelei het.
Dit sluit in die ontplooiing van SAPD-personeel, duikspanne, honde-eenhede en verskeie vaartuie, helikopters en vastevlerk-vliegtuie na meeste van die geraakte gebiede.
“Lugvaartuie van die SANW is gebruik vir beide redding en die aflewering van noodvoor raad — soos voedsel, water, tente en komberse — aan mense in ontoeganklike areas.
“Ek het die SANW gemagtig om meer personeel, waterstoringen watersuiweringsvoorraad en ingenieurspanne in te bring om te help met die herstel van elektrisiteit en watertoevoer,” het hy gesê.
Daarbenewens het  staatsdepartemente op nasionale en provinsiale vlak, munisipaliteite, nie-regeringsorganisasies en sakelui basiese noodvoorraad soos kos, komberse, matrasse, klere, chroniese medikasie, toiletware en kookgerei versprei.
Die Kabinet het onlangs ŉ nasionale ramptoestand na aanleiding van die vloede verklaar.
Die President het die vloede as ŉ humanitêre ramp beskryf, wat ŉ “reuse en dringende verligtingspoging” noodsaak.
“Die lewens, gesondheid en welstand van duisende mense is steeds in gedrang.  Die vloede het grootskaalse ekonomiese en maatskaplike skade verrig,” het hy gesê.
Durbanhawe, wat van sleutelbelang tot Suid-Afrika se ekonomie is en een van die grootste en besigste verskepingsterminale op die kontinent is, is grootliks geraak.
“Die belangrikheid van Durban-hawe en die verwante infrastruktuur vir die doeltreffende bedryf van die land se ekonomie beteken dat dié rampe implikasies inhou vir veel meer as net KZN,” het die President gesê.
Vordering is reeds gemaak in die herstel van werksaamhede by Durbanhawe, die oopmaak van alternatiewe roetes vir trokke om toegang tot die hawe se terminale te verkry en om puinmateriaal in die hawe te verwyder.