Verbeterde belastinginvordering ondersteun herstel en groei 

Vukuzenzele Unnamed

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het onlangs in sy voorlopige belastinginvorderingsverslag aangekondig dat dit oor die R1,5 biljoen tussen April 2021 en Maart 2022 ingevorder het.
Dit is ŉ 25% verbetering teenoor die vorige jaar en ŉ 15% toename teenoor die laaste jaar voor die KOVID19-pandemie.
SAID het ook oor dieselfde tydperk die hoogste bedrag in belastingterugbetalings uitbetaal sedert hy 25 jaar gelede tot stand gekom het.
ŉ Bekwame belastinginvorderingsagentskap is die grondslag van ŉ bekwame staat.
Inkomstebelasting versnel ons nasie se ontwikkeling.
Die geld wat deur SAID ingevorder word, finansier dienslewering en infrastruktuur.
Ons was, deur middel van die R17,8 biljoen wat SAID ingevorder het sedert sy totstandkoming in 1997, in  staat om meer maatskaplike infrastruktuur te bou soos klinieke, skole en hospitale; paaie op te gradeer en nuwe paaie te bou, en om die samelewing se mees kwesbare mense te ondersteun deur middel van toelae en ander maatreëls.
Wanneer invorderingstel sels van inkomstebelasting en die ondersteunende wetgewing effektief, ongekompliseerd en billik is, dien dit as aansporing vir groter voldoening.
Die herstel van stabiliteit en geloofwaardigheid in SAID was een van my eerste prioriteite toe ek in 2018 as president verkies is.
SAID het, soos ŉ aantal van die ander sleutelinstellings, ook deurgeloop onder die slegte gevolge van staatskaping, waar politieke inmengery, wanbestuur en ander faktore sy doeltref fendheid ernstig benadeel het. Dit het nie net die belastingbetaler se moreel ernstig geknou nie, maar ook ŉ verlies aan sakevertroue in die organisasie tot gevolg gehad.
Ek het in 2018 ŉ kommissie van ondersoek na belastingadministrasie en -regering by SAID aangestel onder voorsitterskap van die afgetrede regter Robert Nugent.
Die kommissie het sy finale verslag teen die einde van dieselfde jaar ingedien.
SAID het vier jaar later byna al 16 aanbevelings en 27 subaanbevelings van die kommissie geïmplementeer om stabiliteit in die organisasie te herstel.
SAID het ŉ gefokusde omkeerstrategie aangedryf om homself aan die voorpunt van doeltreffendheid en diensuitnemendheid te posisioneer. Hy het ŉ gekombineerde program om belastingmoraliteit en -voldoening te bevorder.
Die huidige hoë kommoditeitspryse wat verhoogde inkomste uit korporatiewe inkomstebelasting tot gevolg het, het bygedra tot  die jongste inkomstebelastingmeevaller. Die stappe wat SAID gedoen het om sy informasietegnologie en ander infrastruktuur te verbeter, doeane te moderniseer, vaardige personeel te werf en belastingontduiking en kriminele aktiwiteit te bekamp, het ook ŉ rol gespeel.
Een van die Nugent-kommissie se aanbevelings was dat SAID sy kapasiteit om onwettige handel te monitor en te ondersoek, herinstel.
Die eenheid wat onwettige ekonomie ondersoek wat in 2018 heringestel is, het ŉ paar suksesse behaal in die bekamping van onwettige ekonomiese handel, insluitend deur te fokus op nievoldoening aan doeanevereistes.
Belastinginvordering van maatskappye wat op die JEB gelys is, multinasionale maatskappye en hoë-nettowaarde-individue, word nou meer doeltreffend bestuur deur die eenheid vir groot besighede wat in 2020 hervestig is.
ŉ Gevolg van SAID se omkeer is die verbeterde voldoening in persoonlike inkomstebelasting, korporatiewe inkomstebelasting en Pay as You Earn.
SAID is besig om die wind uit die seile van belastingontduikers, begunstigdes van inkomste uit misdaad en diegene wat by korrupte aktiwiteite betrokke is, te neem. Dit is alombekend dat ‘die belastinggaarder’ een van die doeltreffendste instrumente is om korrupsie te bekamp.
 SAID het, in gevalle waar individue se lewenstyle nie ooreenstem met wat hulle verklaar nie, leefstyloudits uitgevoer. SAID het, in die laaste jaar, leefstyloudits voltooi wat die invordering van ŉ verdere R474 miljoen tot gevolg gehad het.
Soos ons met die pogings voortbeur om die kapasiteit van die staat te versterk en instellings te herbou wat sistematies deur staatskaping verswak is, het ons baie om te leer uit dit wat SAID in ŉ relatief kort tydjie bereik het.
As staatsinstellings goed bestuur word en doeltref fend funksioneer, as hulle geloofwaardigheid en billikheid in hulle sake demonstreer, dra dit by tot verhoogde vlakke van vertroue in die regering.
Sakeen beleggersvertroue verbeter ook, wat groter beleggings en ekonomiese groei aanmoedig.
Die leierskap en personeel van SAID moet gelukgewens word met hulle prestasie. Dank moet aan die lojale Suid-Afrikaanse belastingbetalers gaan.
Sonder hulle samewerking sou die jongste inkomste nie moontlik wees nie. Dat SAID die belastingbasis met 1,8 miljoen nuwe registrasies oor die afgelope jaar kon uitbrei, is nog ŉ uitstaande prestasie.
Ons kan Suid-Afrika net herbou as ons voortgaan om dié gedeelde verpligting na te kom en as ons die werk waarmee ons besig is verskerp, om te verseker dat dié belastinggeld wyslik en doeltreffend aangewend word.