Alles wat jy oor epilepsie moet weet

Vukuzenzele Unnamed

Die meeste mense wat epilepsie het, kan ŉ normale lewe lei as hulle hul medisyne neem en die siekte goed bestuur.
Epilepsie is, volgens dr. Nhlakanipho Gumede, die kliniese bestuurder van mediese dienste by Harry Gwala-streekshospitaal in Pietermaritzburg, nie ŉ sielkundige steuring, siekte of kwaal nie en is ook nie aansteeklik nie.
Hy verduidelik dat epilepsie ŉ neurologiese siekte is wat gekenmerk word deur skielike en herhaalde sensoriese versteurings, verlies van bewussyn of stuiptrekkings wat verband hou met abnormale elektriese aktiwiteit in die brein.
“Die brein bestaan uit miljarde senuselle (neurone) wat deur elektriese en chemiese seine kommunikeer. ŉ Skielike, oormatige elektriese ontlading wat die  normale aktiwiteit van die senuselle versteur, kan tot ŉ aanval lei.
“ŉ Enkele aanval beteken nie noodwendig dat jy epilepsie het nie. ŉ Diagnose deur ŉ mediese praktisyn moet dit bevestig,” sê hy.
Tagtig persent van mense met epilepsie sal, volgens Epilepsie Suid-Afrika, hul aanvalle met medisyne kan beheer.
Oorsake en aanvalle
In ses uit tien mense is die oorsaak van epilepsie  onbekend. In die ander 40% kan dit deur ŉ kopbesering, besering tydens die geboorteproses, alkoholen dwelmmisbruik, veroudering of ŉ metaboliese of biochemiese versteuring of wanbalans veroorsaak word.
Dr. Gumede sê dat die tekens en simptome van epilepsie wissel en op verskeie maniere te voorskyn kom, waaronder algemene ligte epilepsie oftewel afwesigheidsaanvalle (petit mal), wanneer iemand uitdrukkingloos staar; algemene  toniese-kloniese aanvalle (grand mal), wat meestal begin met die liggaam wat styftrek voordat die persoon bewusteloos raak en rukbewegings het; en komplekse gedeeltelike aanvalle, wat ŉ uitwerking het op ŉ sekere deel van die brein.
ŉ Petit mal-aanval duur slegs vir ŉ paar sekondes en die persoon kan onbewus wees daarvan dat hulle ’n aanval gehad het. Tydens ŉ grand mal-aanval kan die persoon se lippe ŉ blou skynsel hê wat verdof wanneer hul weer normaal asemhaal. Grand malaanvalle duur gewoonlik ŉ paar minute.
“Beskerm die persoon teen besering deur die voorwerpe rondom hulle te verwyder en hul kop te steun. Moenie hul bewegings beperk of enigiets in hul mond plaas nie. Ondersteun asemhaling deur die persoon op hul sy te draai wanneer die aanval tot ŉ einde kom. Bly by die persoon totdat hulle ten volle herstel het.”
Die persoon kan tydens ŉ komplekse gedeeltelike aanval deurmekaar, ver ward of dronk voorkom.
Hul kan ook herhalende bewegings hê, soos om aan hul klere te trek.
“Verwyder skadelike voor werpe en lei die persoon weg van gevaar af. Praat saggies en gerusstellend met hulle,” sê dr. Gumede.