Spesiale tribunaal toon dat misdaad nie lonend is nie

Allison Cooper

Verskeie burgers het tydens die onlangse presidensiële imbizo in Mahikeng hul kommer oor die tempo van die stryd teen korrupsie uitgespreek. Hulle het vir my gesê wat ek in baie ander gemeenskappe regoor die land gehoor het – dat die identiteit van oortreders van sodanige misdade bekend is, veral omdat hulle met die opbrengs van hul misdade spog.
Maar die arm van die gereg is lank. Diegene wat by die Staat gesteel het, glo dalk dat hulle daarmee weggekom het, maar hulle dade sal hulle uiteindelik inhaal; ongeag wie hulle is en watter poste hulle beklee.
Hulle sal leer dat misdaad nie lonend is nie.
Een van ons doeltreffend ste wapens in die stryd teen korrupsie en staatskaping in dié opsig is die spesiale tribunaal van die spesiale ondersoekeenheid (SOE) wat in 2019 van stapel gestuur is.
Hulle beoordeel sake deur die SOE vir siviele regsgeding ingestel nadat laasgenoemde hul ondersoeke afgehandel het. Die spesiale tribunaal is opgestel om regsgedinge te bespoedig. Dié benadering het dit moontlik gemaak om staatsfondse en -bates wat tydens korrupsie verlore gegaan het, gouer  terug te kry en vermy vertragings in hooggeregs howe waar die SOE saam met ander gedingvoerders hul beurt moet afwag.
Die SOE kan reddingsbevele en die vries van bates versoek om verdere verliese vir die Staat te voorkom. Dit is van belang, aangesien oortreders wat onder verdenking staan dikwels groot moeite doen om hul korrupsie-gewin rond te skuif, weg te steek of daarvan ontslae te raak.
Die spesiale tribunaal het onbetwyfeld die spel verander. Die tribunaal het sedert hul stigting ongeveer R8.6 miljard vanuit onwettige kontrakte teruggekry.
Die vervolging van oortreders is nie genoeg-saam vir die stryd teen korrupsie om as doeltref fend beskou te word nie.
Die opbrengste van hul misdade moet teruggekry word. Dié geld behoort aan burgers en behoort gebruik te word om aan hul behoeftes te voorsien.
Die spesiale tribunaal het onlangs twee konstruksiemaatskappye beveel om die winste wat hulle verdien het vanuit R40 miljoen in kontrakte om die Beitbrug-grensheining te bou, terug te gee. Dit was na aanleiding van ŉ SOE-ondersoek wat ŉ aantal ongerymdhede ontbloot het, waaronder ŉ voorafbetaling aan die maatskappye deur die departement van openbare werke en infrastruktuur.
Die tribunaal het in net die afgelope paar weke onreëlmatige en onwettige kontrakte na aanleiding van KOVID-verwante verkryging ter waarde van meer as R100 miljoen hersien en tersyde gestel.
Die spesiale tribunaal het ook sukses behaal en geld teruggekry by senior uitvoerende beamptes in ondernemings in staatsbesit wat by onreëlmatige sake-aktiwiteite betrokke was. Byvoorbeeld, ŉ voormalige uitvoerende beampte van Transnet is beveel om R26 miljoen te betaal wat hy ontvang het as aandeelhouer van ŉ konsultant-ingenieursfirma wat aan Transnet gekontrakteer was terwyl hy ŉ voltydse werknemer was.
Die SOE het die tribunaal in etlike sake genader om die betaling van pensioenvoordele aan staatsamptenare wat by finansiële ongerymdhede of nuttelose en verkwistende besteding verwikkel is, te vertraag hangende die uitslag van hul ondersoeke.
Die sake voor die spesiale tribunaal dui aan dat baie werk steeds gedoen moet word om leiding en bestuur regoor alle takke van die Staat te versterk.
Dit dui op ernstige foute deur die rekenpligtige beamptes en ŉ versuim om aan die wette en regulasies wat verkryging omskryf, te voldoen.
Ek het voorheen gesê dat dit moeilik sal wees om  die oorlog teen korrupsie te wen en dat dit tyd sal neem om die ontsaglike, verskanste webbe van beskermheerskap los te torring.
Ek hou steeds vol dat ons net so hard teen korrup sie in die privaatsektor moet baklei, want vir elke staatsamptenaar wat bereid is om omkoopgeld te ontvang, is daar ŉ sakepersoon wat bereid is om omkoopgeld te betaal.
Dié korrupte verhoudings het die kapasiteit van Staat om hul mandate te lewer, verweer. Dit het die Staat se pogings om behoorlike gesondheidsorg te verskaf, skoon water te lewer en ŉ deurlopende kragvoorraad vir gemeenskappe en ondernemings te verseker, vertraag.
Ons is egter, soos wat die spesiale tribunaal gedemonstreer het, besig om stadig maar seker die deurslag te gee.
Oortreders word nie net in hegtenis geneem en verskyn voor die hof nie – hulle moet ook die opbrengs van hul misdade verbeur.
Daar is steeds ŉ lang pad vorentoe en daar is ŉ enorme bedrag gesteelde staatsfondse wat nog teruggekry moet word, maar die SOE en die spesiale tribunaal het ŉ goeie wegspring gehad en ek is vol vertroue dat daar baie meer sukses in die komende maande en jare behaal sal word.