CACH snel studente te hulp met studiegeleenthede

Silusapho Nyanda

Jongmense wat nog nie toelating by hoëronderwysinstellings gekry het nie, kan die Sentrale Aansoekklaringshuis (CACH) om hulp nader.
CACH is ŉ aanlynregeringsdiens wat deur die department van hoër onderwys en opleiding (DOO) bestuur word en diegene te hulp staan wat toegang tot  universiteite, tegniese en beroepsgerigte opleidingskolleges (TVET-kolleges) en vaardigheidsontwikkelingsentrums benodig.
“CACH se dienste is vanaf 24 Januarie 2022 tot 31 Maart 2022 beskikbaar om diegene te hulp te staan wat by ŉ tersiêre instelling wil inskryf, maar sukkel om plek te kry,” sê die minister van hoër onderwys en opleiding, dr. Blade Nzimande. CACH kan diegene help wat in 2021 betyds aansoek gedoen het om toelating tot ŉ universiteit of kollege, maar nie plek in hul verkose program gekry het nie.
Die DOO verduidelik dat dít gewoonlik gebeur wanneer die aansoeker nie aan die nodige vereistes voldoen nie of die instelling die maksimum aantal studente wat ingeskryf kan word, bereik.
CACH kan ook diegene  help wat aansoek gedoen het om toelating tot ŉ hoëronderwysinstelling en aanvaar is, maar nou van studierigting wil verander.  CACH sal sulke individue na loopbaanontwikkelingsdienste verwys en, waar moontlik, die geleentheid verskaf vir hulle om in aanmerking te kom vir plek wat steeds beskikbaar is by universiteite en TVET-kol leges of leerlingskappe by sektoronderwysen -oplei dingsowerhede (SETA’s), sonder dat die student self na enige instelling hoef te gaan.
Alle openbare universiteite, TVET-kolleges en SETA’s het toegang tot die CACH-databasis om na individue te soek wat aan die kriteria voldoen vir die plekke wat steeds beskikbaar is.
“Instellings kies individue vanuit die CACH-databasis en kontak dié verkose kandidate direk,” sê DOOwoordvoerder, Ishmael Mnisi.
Aansoekers wat by die  CACH aansluit moet hul besonderhede, insluitend hul verkose studierigting, verskaf. Aansoekers het dan die keuse om die studiegeleenthede op die CACH-stelsel te aanvaar, al dan nie.
Hoëronderwysinstellings verkry slegs toegang tot die kandidate se inligting op die CACH-databasis nadat aansoekers aangesluit het en hul graad 12-uitslae op die stelsel gelaai het.
Mnisi sê dat CACH ook hulp verleen aan voornemende studente wat nog onbeslote oor hul loopbaankeuses is deur hulle na die DOO se Khetha-loopbaanontwikkelingsdiens te verwys.