KOVID-19 korrupsieplegers ry aan die pen

Vukuzenzele Unnamed

Individue en maatskappye wat betrokke was in die pleeg van korrupsie te make met die regering se verkryging van koronavirus toerusting en -dienste, gaan verantwoordbaar gehou word vir hul optrede.  Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) se finale verslag oor hul ondersoek na aantygings verwant aan die misbruik van KOVID19-fondse, regoor alle regeringsfere en die privaat sektor, se vrystelling aan  die publiek is onlangs deur President Cyril Ramaphosa goedgekeur.
Die verslag is ŉ belangrike stap in die stryd teen korrup sie en wanadministrasie in die staaten privaatsektors, het hy gesê. President Ramaphosa het die ondersoek deur die SOE in Julie 2020 gemagtig.
Destyds het hy hom daartoe verbind dat indien die SOE bewyse sou vind dat kriminele oortreding plaasgevind het, die bewyse aan die  Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) oorhandig sou word.
Die SOE is ook gemagtig om siviele regsaksies in te stel om enige skade of verliese wat deur die staat gely is, te herwin.
Bevindinge van die verslag
Die SOE het 5 467 kontrakte ter waarde van R14.3 miljard wat aan 3 066 diensverskaffers toegestaan is, ondersoek.
Die ondersoek na 4 549 kontrakte is gefinaliseer en2 803 hiervan is as onreëlma tig bevind.
Dit behels 62% van die afgehandelde ondersoeke.
“Dié ondersoek is gemik op individue en instellings wat geglo het dat hulle ŉ oomblik van nasionale weerloosheid kon uitbuit om hulself te verryk asook diegene met wie hulle saamgesnoer het om die staatskas te misbruik,” het die President gesê.
Hy het bygevoeg dat dit onaanvaarbaar is dat soveel kontrakte wat gemik was op die red van lewens en die beskerming van mense se lewensbestaan onreëlmatig, onwettig en bedrieglik was.
“Dié ondersoek demonstreer ons vasberadenheid om korrupsie met wortel en tak uit te roei en met oortreders klaar te speel,” het President Ramaphosa gesê.
Die finale verslag bevat besonderhede oor sake wat die SOE na die NVG, departemente en entiteite in die staatsektor asook ander partye verwys het.
Die NVG sal die proses om oortreders tot verantwoording te roep en swakpunte wat deur die SOE geïdentifiseer is, te finaliseer, het die President verduidelik.
Stappe wat gedoen is  
Sedert die begin van die ondersoek het die SOE, in samewerking met ander  agentskappe, die volgende vordering gemaak:
• 45 sake, met ŉ gesamentlike waarde van R2.1 miljard, is aangegee by die spesiale beslissingsraad oor korrupsie, bedrog en ongeoorloofde geldvloei. 
Die spesiale beslissingsraad het ŉ wetlike mandaat om staatsfondse wat deur middel van korrupsie, bedrog en ongeoor loofde geldvloei gesteel is, te herwin en siviele aksie teen die oortreders te neem; 
• 224 sake is verwys vir dissiplinêre aksie teen amptenare in staatsdepartemente of -entiteite; 
• 386 sake is na die NVG  verwys en drie is verwys vir aksie op uitvoerende vlak;
• 330 sake is vir administratiewe aksie verwys, insluitend plasing op die swartlys (nie toegelaat om vir die staat te werk nie).
 Volgens die verslag moet ŉ somtotaal van R551.5 miljoen (waarde van kontant en bates) nog herwin word, met R34.2 miljoen wat tot op hede herwin is.
Die ondersoek het ŉ verlies van R114.2 miljoen verhoed en kontrakte ter waarde van R170.4 miljoene tersyde gestel.
Die SOE verwag dat dié sake tussen Maart en April  2022 afgehandel sal wees, voor die inhandiging van ŉ aanvullende verslag aan die President aan die einde van Junie.
Die verslag sluit nie besonderhede van die voortgesette ondersoek na aantygings wat na die sluitingsdatum vir die verslag deur die SOE ontvang is, in nie.
Dit behels ondersoeke na 476 diensverskaffers wat verband hou met 964 kontrakte ter waarde van meer as R961.6 miljoen.
Die bevindinge van dié ondersoeke sal volgens die Presidensie ook in die Junie-verslag bekendgemaak word.  
Die President het die SOE bedank vir die werk wat oor die afgelope 18 maande gedoen is en het ook sy dank uitgespreek aan die oopvlekkers en ander getuies wat inligting aan die ondersoekbeamptes verskaf het.
