Suid-Afrika huldig oopvlekkers

vukuzenzele unnamed

In die afgelope drie jaar sedert die kommissie van ondersoek na staatskaping afgeskop het, het ons te hore gekom van die uiterstes waartoe die oortreders wat korrupsie gepleeg het, gegaan het om hul misdade weg te steek.
 Dit was ŉ uiterse ingewik kelde taak om die strekking van die netwerke van invloed wat korrupsie bemoontlik het, te ontrafel. Onder meer is talle frontmaatskappye gestig om fondse rond te skuif en beta lings aan polities-invloedryke individue te verskans.
Dieselfde patrone is  gesien in verskeie onder soeke na korrupsie wat onderneem is deur die spe siale ondersoekeenheid, die direktoraat van prioriteitsmis daadondersoek, die nasionale vervolgingsowerheid (NVO) se ondersoekdirektoraat en andere. Namate hierdie ondersoeke gevorder het en die strop al nouer getrek het om individue wat in hierdie misdade ver wikkel is, het ons ook gesien hoe ooggetuies gedreig is, hul families geïntimideer is, hulle geforseer is om weg te kruip, en selfs vermoor is.
Die moord op Babita Deoka ran, ŉ senior finansiesbeampte in die Gautengse Departement van Gesondheid, beklemtoon weereens wát alles op die spel geplaas word in ons gesa mentlike poging om hierdie kanker uit ons samelewing te sny.Alhoewel ons nog nie weet wat die beweegrede agter haar moord is nie, weet ons dat sy ŉ sleutelgetuie was in ŉ SOE-ondersoek na die verkryging van persoonlike veiligheids toerusting in die departement.
Die SAPD en privaat sekuri -teitspanne wat onlangs sewe verdagtes vasgetrek het, moet geprys word vir hul harde werk.  Die dossier is oorgegee aan die Valke en die ondersoek sal hopelik verdere lig werp op die rede waarom me. Deokaran om die lewe gebring is. Ongeag die omstandighede agter hierdie tragedie, is me.
Deokaran ŉ heldin en ŉ patriot, so ook die krygsmag oopvlek kers wat, teen groot eie risiko, help om gevalle van misdaad, wanadministrasie, baantjies vir boeties en diefstal aan die kaak te stel.
Sonder hul dapper en begin selvaste intrede sou ons nie in staat wees om diegene wat korrupsie pleeg, te ontmasker nie. Alhoewel die aandag die afgelope ruk merendeels op oopvlekkers in die openbare sektor gevestig is, is ons ook dankbaarheid verskuldig aan dié in die privaat sektor wie se optrede minder aandag geniet het, maar net so belangrik is.
Oopvlekkers is belangrike bewakers van ons demokra sie. Hulle maak alarm teen onetiese dade en praktyke in die regering en organisasies. Hulle kom op en maak stem dik in goedertrou en met die billike verwagting dat daar nie net opgetree sal word na aan leiding van hul onthullings nie, maar dat hulle ook beskerm sal word en nie geviktimiseer of vooroordeel sal word nie.
In Suid-Afrika is daar breed voerige wetlike beskerming vir oopvlekkers, waaronder by wyse van die Wet op Beskerm ende Bekendmakings, die Wet op Arbeidsverhoudinge, die Maatskappywet, die Wet op Beskerming teen Teistering asook die Grondwet self.
Daarbenewens verskaf die Kantoor vir Getuiebeskerming wat deur die Departement van Justisie en Korrektiewe Diens te in samewerking met ander wetstoepassingsagentskappe bestuur word, steun aan weerlose getuies en getuies wat tydens enige regsprosesse geïntimideer word. Om die getuiebeskermingsprogram te betree is vrywillig en nóg die SAPD nóg die NVO kan ŉ getuie daarin forseer nie. Sou ŉ getuie lewensdrei gemente ontvang of onveilig voel, moet hulle die speurders in kennis stel en aansoek om die program doen. Hierdie suksesvolle program het al meermale sedert die stigting daarvan ŉ sleutelrol gespeel om suksesvolle vervolgings te verseker, veral met betrekking tot georganiseerde misdaad.
Dit is duidelik dat, soos wat die stryd teen korrupsie momentum bou, ons drin gend ons huidige benadering tot nie slegs die beskerming van getuies nie, maar ook die beskerming van oopvlekkers in die algemeen moet hersien.
Alhoewel verskeie stelsels in plek gestel is om oopvlekkers  toe te laat om inligting ano niem te onthul, moet ons die huidige stelsels verskerp en meer ondersteuning lewer aan diegene wat in die openbaar met inligting na vore kom.
As samelewing moet ons vasstel waar ons huidige wetgewing en beleide ontoerei kend is om die lewensbestaan, reputasies en veiligheid van oopvlekkers te beskerm en saam werk om dit aan te spreek.  Kriminele wat oopvlekkers teiken het nie net ten doel om sekere individue stil te maak nie — hulle wil ook ŉ boodskap stuur aan ander voornemende oopvlekkers. Dag na dag staan Suid-Afrikaners soos Babita Deokaran vas; hulle weier om deel te wees van korrupsie en is bereid om as getuies teen dit te staan.
As Suid-Afrikaners bring ons hulde aan haar en al die ander oopvlekkers in die openbare en privaat sektor wat korrupsie  ontbloot. Hulle doen dit sonder om erkenning of vergoeding te verwag. Dít is die hoogste vorm van openbare diens.
Ons kan hulle nie in die steek laat nie. Ons moet, en ons sal, seker maak dat hul onthullings lei tot vervolgings en ook meer doen om seker te maak dat hulle beskerm word.
As Suid-Afrikaners wil ons ŉ sterk boodskap stuur dat ons nie geïntimideer sal word nie. Diegene verantwoordelik vir die moord van getuies en oopvlekkers sal in hegtenis geneem word en die volle mag van die gereg in die oë staar, net soos diegene wat skuldig bevind is van die einste korrupsie wat hierdie sluipmoordenaars probeer toesmeer. 