Om ŉ samelewing vry van staatskaping te bou 

vukuzenzele unnamed

Die geskeduleerde verhore van die regterlike kommissie van ondersoek na staatskaping het onlangs ten einde geloop, meer as 1 000 dae nadat die eerste getuienis aangehoor is.
Alhoewel die kommissie se voorsitter, adjunk-hoofregter, Raymond Zondo, gesê het dat dit nodig mag wees dat daar nog ŉ paar persone se getuienis aangehoor word, is die kommissie se werk nou een tree nader aan voltooiing.
Dit is ŉ belangrike mylpaal wat ons nog nader bring aan afrekening met een van die mees vernietigende episodes in die geskiedenis van ons demokrasie.
Selfs nog voordat regter Zondo sy bevindings en aanbevelings aan die president voorlê, sal ons almal saam stem dat die kommissie se werk van onskatbare waarde was.
Oor die verloop van drie jaar het ons gedetailleerde getuienis aangehoor van beweerde dade van korrupsie op ŉ massiewe skaal. Ons het gehoor van aksies wat gelei het tot die diefstal van miljarde rande se staatsgeld. Ons het gehoor hoeveel instansies en staatsbeheerde maatskappye opsetlik verswak is.
Hierdie blootlegging van die aard, omvang en diepte van staatskaping het nie agter geslote deure plaasgevind nie, maar is oor die hele land uitgesaai. Deur toe te laat dat Suid-Afrikaners die kommissie se verrigtinge volg, het dit gehelp om openbare vertroue in ons demokrasie by die publiek in te boesem deur die wyse waarop dit openheid en deursigtigheid bevorder. Die land is groot dank verskuldig aan almal wat betrokke was by die werk van die kom missie — vanaf diegene wat ŉ massiewe hoeveelheid inligting moes ondersoek, navors en saamstel, die talle getuies wat getuig en bewyse voorgelê het, die joernaliste wat ywerig verslaggedoen het oor die verrigtinge tot die prokureurs wat getuienis help aanbied het.Ons is ook dank verskuldig aan die talle individue, waarvan sommige onbekend is, wie se optrede in die eerste plek tot die totstandkoming van die kommissie gelei het.
Dit is diegene wat hierdie kriminele dade aan die lig gebring het, wat weerstand gebied het, wat uitgepraat het en veldtogte begin het — sowel in die openbaar as agter die skerms — om staatskaping tot ŉ einde te bring. Dit is danksy hulle dat ons nou van staatskaping in die verlede tyd kan praat.
Staatskaping het nie vanself tot ŉ einde gekom nie. Dit is tot ŉ einde gebring deur die gesamentlike dade van Suid-Afrikaners uit alle vlakke van die samelewing wat op verskeie terreine saamgewerk het om die waardes van ons grondwetlike demokrasie te herstel en die onus rus op ons almal om te verseker dat hierdie praktyke nooit weer herhaal sal word nie.
Ons het oor die afgelope drie jaar verskeie belangrike stappe geneem om korrupsie en staatskaping aan te pak.
Ons het liggame soos die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en ander met noukeurigheid begin herop bou. Ons het nuwe strukture opgerig, soos die Ondersoek direktoraat van die NVG om hoëvlakkorrupsie te vervolg en die SOE se Spesiale Beslissingsraad om gesteelde staatsfondse terug te win. Ons het ons misdaadbestrydings kapasiteit verbeter deur die totstandkoming van die Ver-bindingsentrum wat verskeie wetstoepassingsagentskappe bymekaar bring om inligting te deel en die ondersoek en vervolging van misdaad te koördineer.
Ons het die leierskap van verskeie strategiese staats beheerde ondernemings verander en het die proses begin om hulle finansiële en operasionele gesondheid te herstel. Ons kyk na ŉ nuwe SBO-model wat groter deursigtigheid, verantwoord -baarheid en volhoubaarheid bevorder.
Baie van hierdie werk is van voortgaande aard. Daar is gebiede waar die vorde ring baie stadiger is as wat ons wou hê, en hierdie areas geniet nou groter aandag.
Die bevindinge en aanbeve lings van die kommissie sal hierdie pogings ongetwyfeld versterk. Ons verwag dat die kommissie sommige van die sistemiese swakplekke wat staatskaping moontlik gemaak het, sal identifiseer.
Dit sal ons in staat stel om verdere korrektiewe maatreëls te implementeer.
Alhoewel ons kan sê dat die era van staatskaping verby is, het ons nog nie korrupsie oorwin nie. Bedrog en korrup sie bly diep ingebed in sowel die openbare as die privaat sektor.
Alhoewel dit nie op die skaal van staatskaping lê nie, kom sulke kriminele aktiwiteite ons land duur te staan, verswak ons instellings en ontneem dit Suid-Afrikaners van baie basiese behoeftes.
Korrupsie is ten beste immo reel, maar dit sny nog dieper ten tyde van ŉ humanitêre krisis. ŉ Mens praat hier van die afskuwelike dade van korrupsie, verlede jaar, in die verkryging van goedere en dienste wat nodig was in ons stryd teen die KOVID19-pandemie.Ons het vinnig opgetree om sodanige korrupsie te staak, om diegene wat verantwoor-delik is te identifiseer en teen hulle op te tree. Dit is ŉ bewys van ons toewyding om kor rupsie uit te roei.
Ons het die Tesourie-regulasies verskerp, die verbindingsentrum gestig en die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) ŉ breë mandaat gegee om alle KOVID-19-ver wante korrupsiebewerings te ondersoek. In wat as ŉ eerste vir die land beskou word, het ons al die besonderhede van alle KOVID-19-ver krygingskontrakte van alle  staatsentiteite aanlyn gepubliseer.Die skade wat aan ons land aangerig is deur staatskaping, is diepliggend. Die nagevolge sal nog vir baie jare gevoel word, maar deur saam te werk, het ons begin om dinge reg te stel. Ons het begin om te herbou en te herstel.
Ons kan verwag dat die uitkomste van die Zondo-kommissie hierdie pogings oneindig sal versterk. Hier die uitkomste sal aan ons die geleentheid bied om ŉ besliste en blywende breuk met die staatskapingsera te maak.
Daar is nog baie werk wat voorlê, en baie uitdagings moet nog die hoof gebied word, maar ons is op pad om ŉ samelewing te bou wat vry is van die euwels van staatskaping en korrupsie.