Voorkom identiteitsdiefstal

Kgaogelo Letsebe

Shenki Mabitsela (28) is alte bewus van identiteitsdiefstal en die misdade daar aan verwant, aangesien hy sélf al ŉ slagoffer daarvan was.
Mabitsela, van Modimolle in Limpopo, het in November 2020 by ŉ bank aansoek gedoen om ŉ lening, maar is ingelig dat hy te diep in die skuld is en nie kwalifiseer nie. “Ek het gegaan om aansoek te doen vir ŉ korttermyn lening omdat ek gesukkel het om kop bo water te hou nadat ek in Junie 2020 afgelê is. Ek is, tot my verbasing, ingelig dat ek nie kwalifiseer nie. “Ek het aanvanklik gedink dat dit weens my onstabiele inkomste was, maar dit was egter nie die geval nie. Ek het geweet dat ek net een klererekening en geen ander skuld het nie, so ek het vir ŉ afskrif van my profiel gevra,” sê hy.Mabitsela het gesien dat twee selfoonkontrakte, ŉ banklening van R65 000 en verskeie kleinhandelsrekeninge in sy naam aangegaan is. Die skuld was altesaam nagenoeg R100 000. “Ek het net voor die nasionale vlak-5 grendeltydperk my ID-boek verloor. Ek het gedink dit is iewers in die huis en was nie te bekommerd nie, want ek het my slimkaart-ID gehad,” sê hy.Mabitsela het ŉ saak van identiteitsdiefstal by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aanhangig gemaak nadat hy besef het dat iemand op sy naam skuld aangaan. Hy moes ŉ beëdigde verklaring aflê wat bevestig dat hy sy identiteitsboek verloor het en moes dit, tesame met sy saaknommer, na die kredi-teure toe neem om te keer dat hy op die swartlys geplaas word.Mabitsela se ervaring is nie enig in sy soort nie. Bedrog het, volgens die Suid-Afrikaanse Bedrogvoorkomingsdiens (SAFPS) se bedrogverslag vir 2020, verlede jaar met 161% in die Oos-Kaap en met 120% in Gauteng gestyg. Manie van Schalkwyk, die uitvoerende direkteur van die SAFPS, sê: “Dit is baie kommerwekkend dat identiteitsbedrieërbedrog – ook bekend as identiteitsbedrog – met ŉ onrusbarende 337% gestyg het.” Van Schalkwyk sê dat mense ŉ verlore of gesteelde ID of paspoort onmiddellik moet rapporteer. “Om die verlies of diefstal aan die SAFPS en die SAPD te rapporteer, verseker dat ons in staat is om die besonderhede op ons databasis aan te teken en ons lede in kennis te stel. Hulle kan dan ekstra versigtig wees wanneer ŉ identiteit bevestig word.” 

