Stappe om die ekonomie weer op die been te bring 

Vukuzenzele unnamed

Dit sal binnekort ŉ jaar wees sedert die eerste koronavirusgeval in ons land aangeteken is. Die pandemie het ŉ hewige tol geëis in beide openbare gesondheid en die lewensbestaan van miljoene van ons mense.
 Baie werknemers het deel van hul inkomste verloor met die afskaal van hul werksure, met baie ander wat hul werk heeltemal kwyt is weens afleggings. Verskeie ondernemings het groot verliese gely weens werksaamhede wat afgeskaal is. Ander besighede moes heeltemal sluit. Werkers in die informele sektor het ook hieronder gely.Die ergste van alles is dat die pandemie die broodwinners in baie gesinne geëis het, wat dié gesinne behoeftig en vol vrees vir die toekoms laat. Dít is hoekom die omvattende verligtingsmaatreëls wat ons in plek gestel het beide broodnodig en baie dringend was. En nou, ŉ jaar later, is die doeltreffendheid van dié maatreëls bewese.Van al die verligtingsmaatreëls wat ons in plek gestel het, is die twee met die grootste impak bes moontlik die spesiale KOVID-19-toelae en die WVF se KOVID-19 tydelike werkgewer-werknemer-verligtingskema, algemeen bekend as KOVID Ters. Ons sou nie hierdie maatreëls so vinnig kon uitrol as ons nie reeds ŉ omvattende maatskaplike sekerheidsinfrastruktuur in plek gehad het nie. Ons was in staat om vinnig op dié dringende en reuse behoefte in ons samelewing te reageer danksy die wesenlike landswye infrastruktuur en stelsels van die Suid-Afrikaanse Maatskaplike Sekerheidsagentskap (Sassa) en die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF).Daar het ongetwyfeld hier en daar ŉ paar tegniese en ander foute ingeglip, maar meeste hiervan is sommer gou reggestel. Dié staatsagentskappe het uitstekende werk verrig om miljoene mense te registreer en seker te maak dat hulle hul uitbetalings ontvang. Die steun wat deur die WVF gelewer is, was ŉ lewenslyn aan ondernemings en individue in nood. Dit was die verskil tussen ondernemings wat hul deure kon oophou of moes sluit; tussen werke wat behou is en wat verlore gegaan het. Dit het besighede soos Sihle’s Brew, ŉ restaurant in Gauteng, bevoordeel; die restaurant was in staat om sy 18 werknemers te behou, danksy die Ters-skema. Danksy staatsondersteuning kon Mamoshalagae Trading and Projects, ŉ outo-elektriese onderneming in Mokopane, sy werkers betaal asook die besigheid se huurgeld en uitgawes tydens die inperking dek. Werknemers in nood was in staat om ŉ deel van hul salarisse te ontvang.Lindiwe Ntuli, ŉ regsassistent in Centurion, het getuig hoe die toelae wat sy ontvang het, dit vir haar moontlik gemaak om van die huis af te kon werk en haar huur te kon bekostig. Daar is baie verhale van ondernemings wat die afgelope jaar danksy die steun wat hulle van die WVF ontvang het hul deure kon oophou. Dit geld ook vir kleinhandel-sake wat deur die verskeie toelae en lenings wat deur verskillende departemente toegestaan is, geholpe is. Dié maatreëls het ons mense in tye van nood bygestaan. Soos wat ons beweeg van verligting na herstel, moet ons van rat verander.Terwyl hierdie verligtingsmaatreëls van tydelike aard is, gaan die ekonomie steeds vir ŉ hele ruk die nagevolge van die pandemie ervaar.Selfs met die verslapping van baie van die inperking se beperkings, sukkel vele ondernemings steeds met die nagevolge van maande en maande se beperkte werksaamhede en verlore inkomste.Daar is dus besluit, na aanleiding van omvattende gesprekvoering met maatskaplike vennote by NEDLAC, dat die KOVID Ters-voordele met drie maande verleng sal word tot 15 Maart 2021 in sektore wat nog nie ten volle operasioneel is nie. Die spesiale KOVID-toelae is met drie maande verleng. Dit bly egter korttermynmaatreëls.Ons moet nou daarop begin fokus om ŉ omgewing te skep waarin besighede kan herstel en wat werkskepping en belegging aanmoedig.Die herstel gaan moeilik wees en tyd neem, veral synde ons steeds te midde van die pandemie is. So belangrik soos die verligtingsmaatreëls is, kan ons dit nie onbepaald in plek hou nie. Ons moet seker maak dat hierdie verligtingsmaatreels ŉ stewige basis vorm vir die breër herstel van die ekonomie sonder om die land verder in die skuld te dompel. Tensy ons ons nasionale skuld kan afbring na onderhoubare vlakke, sal geen betekenisvolle herstel moontlik wees nie. Ons nasionale bewussyn moet nou verby verligting na herstel strek, en ons moet almal ons deel bring om dit te bewerkstellig. As die staat gaan ons vanjaar moeilike besluite oor openbare besteding moet neem en implementeer.Maatskappye gaan innoverend moet wees met be stuursmetodes en -prosesse om hul volhoubaarheid en winsgewendheid te verseker, met die voorkoming van werksverlies as hul grootste oorweging.Ons moet geld in ons ekonomie terugplaas deur plaaslike produkte te koop, plaaslike besighede en bedrywe te ondersteun en by plaaslike verskaffers te aan te koop.ŉ Beseerde pasiënt met goeie kanse vir herstel ontvang gereelde fisioterapie om hom te help om sterker te word sodat hy gou weer op sy eie voete kan staan. So ook moet dié tydelike verligtingsmaatreëls beskou word as ŉ manier om ons ekonomie weer op die been te bring. Ons uiteindelike doel is om weer self te kan loop. Kom ons almal strek as ŉ nasie ŉ helpende hand uit. Kom ons wees saam deel van ons eie ontwikkeling en vordering. Laat ons gebruik maak van dié verlengde verligtingsmaatreëls om sterk ekonomiese herstel te bewerkstellig. 

