'n Eer om die AU te lei

Vukuzenzele Unnamed

Suid-Afrika se ter myn as voorsitter van die Afrika-unie het ten einde geloop. Wanneer ons oor ons jaar in hierdie posisie besin, onthou ek die ou spreekwoord wat lui: “Van die nood ‘n deug maak.”Dit was ’n vuurdoop, omdat ons die voorsitterskap oorgeneem het in dieselfde maand as wat die eerste geval van die koronavirus op die kontinent aangemeld is. Die prioriteite wat ons vir ons termyn gestel het, waaronder die uitbreiding van vrede en sekuriteit, die ekonomiese bemagtiging van vroue en ’n verdieping van ekonomiese integrasie, moes onmiddellik en ingrypend aangepas word om ons op die pandemie toe te spits.Ons dringendste taak was om die fokus van die Afrika-unie te rig op die hantering van die ergste wêreldwye noodsituasie in meer as ‘n eeu.COVID-19 het al die lande op die kontinent geaffekteer. Tot op hede is daar meer as 3,5 miljoen bevestigde gevalle in Afrika, en meer as 88 000 mense het gesterf.Dit was ’n gesondheids-, humanitêre, sosiale en ekonomiese krisis vir Afrika-lande, en die meeste van hierdie lande beskik nie oor voldoende hulpbronne om ‘n gesondheidskrisis van so ‘n omvang te hanteer nie.En tog, so ongeëwenaard as wat die aard van hierdie pandemie tot dusver was, so ongeëwenaard was ook die wyse waarop Afrika-lande saamgestaan het om dit te beveg.Ons het hoofsaaklik op die kontinent se eie kundigheid, vermoëns en instellings ge-steun, waaronder die Afrika Sentrum vir Siektebeheer en -voorkoming (Africa CDC).Afrika het nie net passief sit en toekyk hoe die werklike omvang en gevaar van die pandemie ontvou nie. Sedert die vroegste dae van die pandemie is daar onder leiding van die AU spoedig ’n kontinentale reaksie-strategie ontwikkel wat aangedryf is deur die Afrika CDC en streekstaakmagte. Ons het besef dat elke land op die kontinent ernstig deur die pandemie geraak sou word. Die meeste lande sou nie oor die nodige hulpbronne beskik om die uitdagings van die openbare gesondheidsektor te hanteer of hulle ekonomieë te beskerm nie. Ons het daarom as Afrika-lande ooreengekom om verskeie prominente Afrikane aan te wys as spesiale verteenwoordigers om met internasionale befondsers en multilaterale instellings in gesprek te tree om Afrika se saak vir finansiële ondersteuning en skuldverligting te stel.Op hierdie wyse was ons, deur as ‘n kontinent saam te werk, in staat om skuldverligting en finansiële hulp vir baie lande ten opsigte van ons COVID-respons en ekonomiese herstel te beding. Maar al het Afrika-lande hulle na die internasionale gemeenskap gewend vir hulp, het ons eers onsself gehelp – deur ‘n kontinentale COVID-19-reaksiefonds op te rig en te kapitaliseer. Vir elke vennootskap wat met lande met meer hulpbronne asook die internasi onale skenkergemeenskap aangegaan is, het ons ons eie innoverende en baanbreker Afrika-mediesevoorraadportaal gevestig om alle Afrika-lande in staat te stel om vinnig persoonlike beskermende toerusting en ander mediese voorraad op ’n billike en bekostigbare wyse te bekom.En nou dat die COVID-19-entstof beskikbaar is, het ons as ‘n kollektief saamgewerk om te verseker dat die kontinent sy regverdige deel kry deur saam met die COVAX-fasiliteit te werk, gelei deur ons eie entstoftaakspan (African Vaccine Acquisition Task Team). Ontplooiing van die entstof het reeds ’n aanvang geneem op die konti nent en ons streef daarna om die meerderheid van die kontinent se bevolking teen die einde van 2021 ingeënt te hê om kudde-immuniteit te bereik.Ons het soos een mens opgetree om gesondheid, mense en mense se bestaansmiddele op die kontinent te beskerm. Deur dit te doen, het ons gewys dat ons die kapasiteit het om na onsself te kyk en oor die vermoë beskik om ons eie ontwikkeling aan te dryf.Ongeag die oorheersing van COVID-19, het ons nog steeds daarin geslaag om in talle van ons sleutelprioriteite vordering te maak.  Tydens ons termyn is die Afrika Kontinentale Vryehandelsgebied (AfCFTA) uiteindelik bekendgestel, wat ’n nuwe era van intra-Afrika handelen ekonomiese integrasie inlui.Selfs onder die moeilike omstandighede weens die pandemie het die kontinent voortgestu om die “gewere op die kontinent stil te maak.” Die AU was onder andere aktief betrokke in onderhandelinge rakende die Groot Ethiopiese Renaissance-dam, die bewerkstelliging van ’n skietstilstand in Libië sowel as die bevordering van vrede in Suid-Soedan.Nog ‘n fokuspunt van ons termyn was die ekonomiese bemagtiging van vroue, waarmee ons sal voortgaan al het ons termyn verstryk, en ook regdeur die Afrika-vroue se Dekade van Finansiële en Ekonomiese insluiting tot 2030.Wanneer ons dan nou die stokkie oorgee aan die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRC), laat ons hierdie voortreflike kontinentale liggaam in ’n sterker posisie. Suid-Afrika sal voortgaan om sy kant te bring om in-tegrasie op die kontinent te bewerkstellig, en sal die inkomende voorsitter sowel as die organisasie ondersteun in sy pogings om die aspirasies van die AU se Agenda 2063 te bereik.Toe die Organisasie vir Afrika-eenheid in 1963 gestig is, het lidstate die saadjies van samewerking en solidariteit in navolging van ‘n beter lewe vir al die mense van Afrika gesaai.Hulle het bevestig dat Afrika-eenheid van die grootste belang is om die welsyn en welvaart van Afrika se mense te verseker.Die geskiedenis kan getuig dat hierdie saadjies nie altyd in vrugbare grond geval het nie en deur die jare het die kontinentale eenheidsprojek baie struikelblokke teëgekom of onsuksesvolle wegspringpogings gehad.Maar die groot bedreiging wat hierdie pandemie ingehou het, het Afrika-lande tot kollektiewe aksie saamgesnoer.In die kweekhuis van die COVID-19-krisis het die saadjies van eenheid en samewerking wat deur ons baanbreker-voorvaders geplant is, lewe gekry en geblom.Hierdie tydperk van groot beproewing en swaarkry was van die AU se beste tye.Ons is geëerd om die geleentheid te kon hê om die organisasie deur hierdie tydperk te lei toe dit die ware betekenis van die woorde Afrika-unie prakties kon demonstreer. Dit is ’n prestasie waarop al die inwoners van ons kontinent Afrika baie trots behoort te wees en waaruit hulle groot inspirasie behoort te put.
