Transformasie van die landbousektor

vukuzenzele unnamed

Die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling (DLGLO) het onlangs aangekondig dat lede van die publiek aansoek sal kan doen om 700 000 hektaar onderbenutte of leë staatsgrond in sewe van die provinsies te huur.
Landbougrond is die hoof steun van ons natuurlike hulpbronbasis. Die beskikbaarheid en volhoubare gebruik van landbougrond waarop gewasse aangeplant kan word en vir veeteelt is van kardinale belang vir ons oorlewing.Suid-Afrika het wyd uitgestrekte grondoppervlakke wat geskik is vir landbouproduksie, met net 37,9% van ons totale landoppervlakte wat tans vir kommersiële landbou gebruik word.Ons bewerkbare grond word, soos in baie ander lande, bedreig deur grondverswakking, waterskaarste en stedelike indringing. Ons verloor ook puik landbou grond deur veranderings in grondgebruik.Gegewe ons geskiedenis, is die verbreding van toegang tot landbougrond vir kommersiële produksie en bestaansboerdery,  ŉ nasionale prioriteit.Hoewel die grondhervormingsproses na 1994 daartoe gelei het dat meer grond aan swart Suid-Afrikaners teruggegee en herstel is, leef die skadelike uitwerking van die Wet op Naturelle Grond van 1913 steeds voort in patrone van landbougrondeienaarskap. Die Wet het baie verder gestrek as die onteiening van miljoene mense se voorvadersgrond.Die uitwerking van ons verlede duur steeds voort deur grondeienaarskap wat steeds meestal in besit van die minderheid is, en landbou primêre produksie en waardekettings wat hoofsaaklik deur wit kommersiële boere besit word.Die voortgesette monopolisasie van ŉ belangrike produksiemetode soos grondverwerking, is nie net ŉ hindernis tot die bevordering van ŉ meer gelykmakende samelewing nie; dit is ook ŉ resep vir maatskaplike onrus.Die hunkering na grond om te bewerk neem toe, veral onder arm landelike mense. En die tempo van grondhervorming in dié spesifieke sektor is, om verskeie redes, stadig en onbevredigend.Transformerende patrone van landbougrondeienaar skap is noodsaaklik om nie net die geskiedkundige ongeregtighede van die verlede die hoof te bied nie, maar ook om ons nasie se voedselsekerheid, te beveilig.Volgens die 2019 verslag van die Presidensiële Raadgewende Paneel oor Grondhervor ming en Landbou, “het 41% van mense in ons landelike gebiede en 59,4% in stedelike gebiede in ons land ernstige onvoldoende toegang tot voedsel, hoewel ons voedsel uitvoer”.Landbouhervorming was sedert demokrasie ŉ prioriteit van opeenvolgende regerings.Tussen 1994 en Maart 2018, het die staat deur die grondhervormingsprogram 8,4 mil joen hektaar grond aan voor heen benadeelde individue gelewer. Vordering beloop egter minder as 10% van alle kommersiële landbougrond.In my Staatsrede vroeër vanjaar, het ek my daartoe verbind om landbougrond wat deur die staat besit word binnekort vir boerdery beskikbaar te stel. Dit is ŉ belangrike mylpaal in die landbouhervormingsproses en gee uitvoering aan die Vryheidsmanifes se belofte dat die grond onder diegene wat dit bewerk, verdeel sal word.Ons herverspreidingsvisie poog om die regte balans tussen maatskaplike ongeregtigheid en regstelling te vind en om landbou-uitsette te bevorder deur meer swart boere tot die hoofstroomekonomie te laat toetree.Grond is ŉ produktiewe bate wat wins genereer en vir kollateraal gebruik kan word om ander bates te verkry.Ons moet ook verseker dat grond wat vir boerderydoeleindes verkry word, produktief gebruik word. Om die toegekende stuk grond vir boerderydoeleindes te beskerm, is die huurreg nie oordraagbaar nie. Begunstigdes sal ŉ huurkontrak met die staat teken en ŉ huurfooi wat in ooreenstemming met die grondwaarde is, betaal.Ons moet ook verseker dat boere op die pad na volhoubaarheid en winsgewend heid ondersteun word.As deel van die program, sal begunstigdes opleiding in finansiële bestuur en ondernemingsontwikkeling ontvang. Ervaring het getoon dat opkomende en klein skaalse boere dikwels nie die finansiële vaardighede het om markgeleenthede te benut en met waardekettings te integreer nie.Ons prioritiseer vroue, die jeug en mense met gestremdhede as begunstigdes.Daar is bewysbare sukses met die bemagtiging van vroulike boere onder die bestaande Proaktiewe Grondverkrygingstrategie (PGVS).Vroue aan wie plase in verskeie provinsies deur die DLGLO toegeken is, kon dit suksesvol bestuur en kon selfs na kommersiële produksie oorskakel. Die departement belê ook, buiten grondverkryging self, in infrastruktuur, toerusting en masjinerie om dié entrepreneurs in staat te stel om suksesvolle besighede te bedryf.Verhoging van toegang tot grond en boerderygeleenthede sal werkskepping en ondernemingsontwikkeling ondersteun en die mark vir voedsel, landbougoedere en -dienste, verbeter.Die uiteindelike doelwit van die beskikbaarstelling van dié grond, is om die landboulandskap te transformeer deur ŉ nuwe generasie boere te ontwikkel. Die verhuring van grond onder sulke gunstige toestande moet hulle aanspoor om groot planne te hê; om nie net hul eie ondernemings te ontwikkel nie, maar om gedeelde rykdom en voorspoed in die gemeenskappe waar hulle boer, te bevorder.Hulle moet die ernstige verdeling van ons verlede genees. Hulle moet die stereotipe siening dat net wit boere in Suid-Afrika kommersieel suksesvol is en dat swart boere aanhoudend ‘opkomend’ is, uit die weg ruim.Deur die grond te bewerk en dit produktief te maak, sal hulle inderdaad swaarde in ploegskare verander. Hulle sal die simbool van nasionale versoening word. 