Saam kan ons Covid-19 oorwin

vukuzenzele unnamed

Tydens die eerste volle week van landwye inperking om die koronaviruspandemie wat die wêreld plat slaan te bekamp, is ons in dié onseker tye dankbaar vir goeie nuus wat vreugde en hoop gebring het.
Die 114 Suid-Afrikaners wat ŉ paar weke gelede uit Wuhan in China ontruim is, se kwarantyn het tot ŉ einde gekom en hulle is met hulle gesinne herenig. Hulle het almal negatief vir die virus getoets en is gesond en opgeruimd.
 Hulle was vir maande ingeperk, eers vir 51 dae in Wuhan en toe vir 14 dae in Polokwane. Hulle kon nie by hulle geliefdes wees nie, kon nie hulle woonplekke verlaat nie en was onseker oor wanneer hulle beproewing tot ŉ einde sou kom. Wanneer die oorblywende 17 dae van Suid-Afrika se tyd van inperking bygevoeg word, sal hulle vir altesaam 82 dae ingeperk wees. Dit was wonderlik om tyd saam met dié diverse groep Suid-Afrikaners van alle ouderdomme, tale en agtergronde, deur te bring. Ek was beïndruk deur hulle geeskragtigheid, moed en vasberadenheid om gesond te bly.  Hulle kom van die episentrum van die koronavirus in Wuhan, China en het die verwoestende impak van dié virus op mense ervaar.  Ek was nie verras toe hulle sê dat dit hulle missie is om die gesondheid van die mense om hulle, te beskerm nie. Hulle geduld en vasberadenheid is nou beloon, want hulle keer terug na hulle gesinne toe. Hulle terugkeer huis toe is deur talle mense moontlik gemaak wat alles moontlik gedoen het om te verseker dat dié repatriasieproses suksesvol uitgevoer word.As ’n nasie is ons ontsettend dankbaar dat die regering en die mense van China so goed na ons burgers omgesien het en ons bedank hulle vir hulle hulp met die repatriasieproses. Dit is noemens waardig dat verskeie van die Suid-Afrikaners in Wuhan studiebeurse van die Chinese regering ontvang het, ŉ goedgunstige daad wat opreg waardeer word.  Ons is dankbaar vir al die mense wat by die proses betrokke was, van SAA-personeel en die mediese span, tot die polisie en soldate wat hulle huis toe gebring het. Ieder en elkeen van hulle het na vore gekom om verantwoordelikheid vir die veilig heid en welstand van ander, te aanvaar. Hulle was bereid om ŉ moeilike en gevaarlike missie aan te pak en om aan kwarantyn onderhewig te wees. En hulle vertel nou vir my dat hulle gereed is vir die volgende missie.Ek bedank die personeel en bestuur van die Ranch Hotel in Polokwane, wat so goed na die teruggekeerdes omgesien het. Hulle was bereid om hul rol te vervul in ons nasionale poging om dié siekte die hoof te bied. Almal wat by die proses betrokke was, het Suid-Afrika eer aangedoen. Die ervaring van die Suid-Afrikaners in Wuhan demonstreer die doeltreffendheid — en die noodsaaklikheid — van ŉ inperkingstydperk. Dit was as gevolg van die Chinese regering se drastiese optrede om die siekte in Wuhanstad in te perk, dat al ons mense gesond teruggekeer het en nie die virus onder lede het nie.Wuhan, ŉ stad in die Hubei-provinsie, met 11 miljoen inwoners, het meer as 50 000 infeksies gehad. Die provinsie het nou, na meer as twee maande nadat streng inperkingsmaatreëls ingestel is, minder as 20 nuwe gevalle in die afgelope twee weke gehad.Die inperking van die siekte in Wuhanstad, in Hubeiprovinsie en op ander plekke reg oor China, het ŉ massiewe en buitengewone poging vereis. Dit het drastiese beperkings op mense se daaglikse lewens behels en ŉ ernstige impak op die Chinese ekonomie gehad. Ander lande het soortgelyke maatreëls toegepas en ervaar groter sukses in die beheer van die siekte se verspreiding as lande wat langer geneem het om daarop te reageer.Namate die totale aantal bevestigde Covid-19-gevalle wêreldwyd tot meer as700 000 styg en die aantal sterftes 33 000 oorskry, kan ons by dié lande leer. Dit is nou baie duidelik dat die doeltreffendste manier vir ŉ samelewing om die verspreiding van die siekte te beperk, is vir die bevolking om vir minstens ŉ paar weke tuis te bly en fisies van mekaar geïsoleer te wees. Dit is ook belangrik dat die inperking en alle ander noodmaatreëls streng nagekom en deurlopend toegepas word.Soos die Suid-Afrikaners wat in Wuhan was kan getuig, is dit uiters moeilik om sulke beperkings op mense se daaglikse lewe, op beweging en gewone menslike kontak, toe te pas. ŉ Inperking in die Suid-Afrikaanse konteks veroorsaak bykomende ongerief en spanning en ons doen alles moontlik om die impak op ons mense te verminder. Die les van die Suid-Afrikaners in Wuhan is dat in perking werk. Dit toon dat as ons streng by die ingestelde reëls hou om te keer dat die virus versprei, ons in staat sal wees om die infeksiekoers te verminder.  Dit toon dat as ons saam met die gesondheidsowerhede werk en doen wat ons moet doen, ons nie net ons eie lewens nie, maar ook diegene om ons se lewens sal red.Die storie van ons Suid-Afrikaanse teruggekeerdes uit Wuhan, behoort ons aan te moedig en hoop te gee in die moeilike weke wat voorlê. Hulle storie wys vir ons dat daar lig aan die einde van die tonnel is, dat as ons volhou, gedissiplineer bly, die inperking respekteer en saam werk, ons die virus sal oorwin.
