Saam kan ons die impak van COVID-19 beveg

vukuzenzele unnamed

Die wêreld is in die wurggreep van 'n noodsituasie vir openbare gesondheid op 'n skaal wat meer as 'n eeu laas beleef is.
 Die verspreiding van die koronavirus, wat die siekte bekend as COVID-19 veroorsaak, is skrikwekkend vinnig en wyd, en word nou as 'n wêreldwye pandemie gedefinieer.Dit het geen geografiese of territoriale grense nie, het sowel jonk as oud besmet en is aan die toeneem in sowel ontwikkelde as ontwikkelende lande. Namate die sifting en toetsing verskerp word, sal die aantal infeksies in Suid-Afrika na verwagting toeneem. Ek het onlangs 'n nasionale ramptoestand verklaar, 'n maatstaf wat ooreenstem met die erns van die bedreiging vir ons mense, ons samelewing en ons ekonomie. Dit sal ons in staat stel om 'n geïntegreerde en gekoördineerde rampbestuursprogram te bedryf en om vinnige en doeltreffende nood-reaksiestelsels in plek te stel. Hierdie virus sal uiters ontwrigtend wees, en ons priori teit is om die gesondheid en welstand van alle Suid-Afrikaners te beskerm. Ons moet ook die onvermydelike ekonomiese nadraai aanpak. Ons moet 'n afname in uitvoere verwag, 'n daling in toeriste-aankomste en 'n ernstige impak op produksie en sakelewensvatbaarheid, sowel as werkskepping en die behoud van werk. Die Kabinet finaliseer tans 'n omvattende pakket van ingrypings om die verwagte impak van COVID-19 op ons ekonomie te verminder. Dit word in oorleg met sake-, arbeidsen ander relevante instellings gedoen. Dit was Louis Pasteur wat gesê het dat rykdom die voorbereide gees bevoordeel. Suid-Afrika is voorbereid, en is reeds 'n geruime tyd voorbereid. Sedert die uitbreek van die virus aangemeld is, het ons opgetree om maatreëls vir sifting en inperking in plek te stel. Ons nasionale reaksie is gedryf deur 'n inter-ministeriële komitee (IMK) onder die voorsitterskap en bekwame leiding van die Minister van Gesondheid, Dr Zweli Mkhize. Die manier waarop die IMK en die ondersteuningspanne op hierdie noodtoestand gereageer het, is doeltreffend en gerusstellend, veral omdat dit help om die openbare paniek te onderdruk. Ek sal voorsitter wees van 'n nasionale opdragraad om alle aspekte van ons nasionale reaksie te koördineer. Suid-Afrika het 'n positiewe prestasierekord in die bestuur van noodgevalle.Ons het die kennis, die middele en die kundigheid. Ons wetenskaplikes en epidemioloë is wêreldklas. Ons het 'n reeks noodmaatreëls ingestel en sal finansie ring beskikbaar stel om die implementering daarvan te ondersteun. Dit sluit ’n reisverbod op besoekers uit lande met 'n hoë risiko in, sowel as verpligte toetsing, self-isolasie of kwarantyn vir Suid-Afrikaanse burgers wat uit hierdie lande terugkeer; asook die versterking van waarneming, sifting en toetsing by die hawens van toetrede tot die Republiek. Sosiale distansiëring is van kritieke belang om die verspreiding van COVID-19 te stuit. Byeenkomste van meer as 100 mense is verbode en die massa-viering van nasionale dae word gekanselleer. Besoeke aan alle korrektiewe sentrums word onmiddellik vir 30 dae opgeskort. Nie-noodsaaklike internasionale reis vir regeringsamptenare is verbied en nie-noodsaaklike reis binne die land word ontmoedig. Altesaam 35 binnelandse plekke van toetrede in die land en twee hawens sal gesluit wees. Skole sal ook vanaf 18 Maart tot na die Paasnaweek gesluit wees. Ons sal binnekort maatreëls rakende universiteite en kolleges aankondig. Volgende maand is Paasfees, 'n heilige tyd vir verskeie gelowe en 'n tyd waarin massa-dienste en -byeenkomste gewoonlik plaasvind. Die geloofsgemeenskap moet besluite neem in dié verband in die belang van hul gemeentes se gesondheid en dié van die land as ’n geheel. Die beheer van higiëne moet in alle sektore versterk word. Elkeen van ons moet beheer neem oor ons eie veiligheid deur maatreëls soos om gereeld jou hande met seep te was of hand-ontsmetmiddels te gebruik en jou neus en mond met 'n snesie of elmboog te bedek wanneer jy hoes of nies. As deel van ons nasionale poging sal die Departement van Gesondheid voortgaan met 'n intensiewe en deurlopende veldtog om bewustheid oor simptome, voorkoming, oordrag en infeksie te verhoog. Ek moedig alle Suid-Afrikaners aan om hulle te vergewis van die toepaslike voorkomende maatreëls. Hierdie maatreëls is soortgelyk aan dié in ander lande, en dit is belangrik dat ons almal verstaan dat dit nie ’n straf is nie, maar 'n kwessie van openbare veiligheid. Een van die grootste gevare op die oomblik is onkunde en verkeerde inligting. Ons moet ophou om vals en ongeverifieerde nuus te versprei, veral op sosiale media. Dit kan 'n reeds gespanne nasionale stemming vererger en die nasionale poging skade berokken.Ons moet ook nie toegee aan die uitdrukking van vooroordeel wat ons gesien het in ander lande wat gerig is op burgers van lande waar die uitbreek begin het of die huidige episentrum in Europa nie. Dit is duidelik dat die virus mense van alle nasionaliteite aantas. Laat ons diegene wat besmet is, sowel as dié wat uit hoërisiko-lande teruggekeer het, met deernis behandel. Laat ons hulp verleen aan mense in nood en dié wat meer kwesbaar is, in plaas daarvan om hulle te vermy. Ons sal getrou bly aan die waardes van verdraagsaamheid en respek wat ons as 'n volk definieer. Namens al die inwoners van Suid-Afrika bedank ek die span wat ons landgenote uit Wuhan, China, gerepatrieer het, asook die leierskap en mense van Limpopo wat help met die kwarantynproses. Dit is 'n moeilike tyd. En tog is dit in tye van  teëspoed dat ons krag open baar word. Ons sal beslissend optree, met vasberadenheid en doelgerigtheid. Ons sal gesamentlik optree, want dit is die optrede van elke Suid-Afrikaner wat die sukses van ons pogings bepaal. Die Thuma Mina-oomblik is op ons, miskien soos nog nooit tevore nie. Dit sal ook verbygaan. Ons sal oorwin. Ons is Suid-Afrikaners.
