Die jeug is die toekoms van ons land

Vukuzenzele unnamed

Om met jong mense gesprek te voer, laat my altyd energiek voel. Dit is opwindend om insig te kry in hul strewes en oorwinnings en hul visie oor wat gedoen kan word om hierdie land te verbeter.Ons kan nie ontken dat die jeug 'n belangrike teenwoordigheid in die psige en weefsel van ons land is nie.In teenstelling met die persepsie dat hulle selfvoldaan, polities apaties of selfbehep is, bevestig plaaslike en internasionale studies dat jongmense regdeur die wêreld altyd meer positief is oor hul vooruitsigte.Volgens die bevindinge van 'n peiling deur Ipsos Pulse of the People, wat in Januarie vrygestel is, voel 61% van Suid-Afrikaners tussen 15 en 17 jaar optimisties oor 2020.Ek twyfel nie dat dit 'n sentiment is wat gedeel word deur die jeug in die algemeen nie, en veral die groep wat aan die begin van die millennium gebore is en nou hul volwasse lewe begin; diegene wat die jeug Ama2000 noem.Dit is die seuns en dogters wat ná demokrasie gebore is. Hoewel hulle nie persoonlike ervaring van die gruweldade van apartheid het nie, leef hulle saam met die nalatenskap van rasseongelykheid, ruimtelike onreg en armoede. Hierdie jongmense is vol vertroue, selfversekerd en vol ambisie. Hulle ken hul regte en is nie bang om daarop aan te dring nie.Die jeug van ons land verteenwoordig energie, hoop, pret, potensiaal, toekoms en vryheid.Hulle is digitale boorlinge wat vlot is in die gebruik van moderne tegnologieë en loopbane wil betree wat nie eens bestaan het toe hul ouers jonk was nie.Aan die vooraand van die Staatsrede het ek die voorreg gehad om met 'n groep sulke dinamiese jongmense te gesels tydens 'n intergenerasie-dialoog wat deur die Nasionale Agentskap vir Jeugontwikkeling belê is.Ons het kwessies wat vir die jeug baie belangrik is bespreek, en maniere ondersoek om ons perspektiewe en optrede te belyn.Uiteraard het toegang tot werk en geleenthede die agenda oorheers. Van die 1,2 miljoen jongmense wat elke jaar tot die arbeidsmark toetree, is daar byna twee derdes wat nie werk of studeer nie.Die deelnemers aan die dialoog het die feit verwelkom dat die kwessie van jeugindiensneming op die hoogste regerings vlakke aandag geniet. Maar die refrein was welbekend: hulle was op verskillende maniere gereed en kon bydra tot die ekonomie, onder meer as entrepreneurs, maar burokratiese rompslomp en 'n gebrek aan finansiering verhoed hulle om dit te doen. In dié verband het Bright Hlongwane van Youth in Business South Africa vir my gesê daar moet meer geld vir jong entrepreneurs beskikbaar gestel word. Hulle wil graag sien dat 'n verskeidenheid finansiele instellings, soos instellings wat ontwikkelingsfinansiering voorsien, private beleggers en private-ekwiteitsfirmas, sowel as kommersiële banke, krediet aan ons jong entrepreneurs verleen en vertroue in hulle stel.Om ons land te laat vooruitgaan en floreer, moet ons alles in ons vermoë doen om te verseker dat jongmense op 'n betekenisvolle manier aan ons ekonomie kan deelneem, hetsy in formele indiensneming of in eie diens.Dit was dus gepas dat ek hierdie platform kon gebruik om die Presidensiële Intervensie vir Jeugindiensneming te loods, wat 'n strategiese nasionale visie en plan is waarin prioriteitsoptredes uiteengesit word om jeugwerkloosheid die hoof te bied.Dit sluit 'n nasionale loopbaannetwerk in wat kandidate met werksgeleenthede verbind wat by hulle vermoëns pas. Dit stel jongmense in staat om toegang tot geleenthede te kry, aangesien sommige van hulle nie toegang tot netwerke het wat geleenthede vir hulle ontsluit nie.Gespesialiseerde kort gefokusde kursusse in vaardighede waaraan werkgewers tans ’n behoefte het, word gereël. Dit is daarop gerig om aandag te gee aan die probleem van 'n wanverhouding tussen die bestaande opvoedkundige, opleidingsen ontwikkelingsprogramme en die vereistes van die ekonomie.Ons verwelkom die werk wat reeds op hierdie gebied gedoen word, soos die program wat tans deur die departemente van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwik keling asook Samewerkende Regering en Tradisionele Sake onderneem word om 1 000 jong studente in die Vrystaat op te lei in landbouen ander vaardighede.Talle jongmense wil hul eie ondernemings begin. Hulle het egter nie die tegniese vaardighede wat hulle kan help om dit te doen nie. Hierdie ingryping sal die groei van jong entrepreneurs ondersteun.Entrepreneurskap is beslis nie 'n wondermiddel nie, maar ek is oortuig daarvan dat dit een doeltreffende en bewese manier is om identiteit en doel, 'n gevoel dat hulle êrens behoort en hoop vir die toekoms aan die jeug te verleen.Die Presidensiële Jeugdiensprogram bied aan jongmense geleenthede om iets terug te gee aan hul gemeenskappe. Hierdie inisiatief is daarop gerig om veranderinge te bewerkstellig en ’n grootskaalse uitwerking te hê, in teenstelling met gefragmenteerde programme wat ’n beperkte uitwerking het.Ek het ook in die Staatsrede aangekondig dat ons 1% van die nasionale begroting opsy sal sit vir 'n jeugindiensnemings inisiatief. 'n Aantal programme en projekte word ontwerp om hierdie nasionale uitdaging aan te pak.Die jeug van ons land sien dit duidelik as 'n land van geleenthede en belofte, ondanks die struikelblokke wat hulle teëkom. Die afgelope week alleen het ek verskeie jong Suid-Afrikaners ontmoet wat my trots maak op hoe ver ons gekom het en wat ons bereik het.Daar is jong sportmense soos gholf-wonderkind Sim ‘Tiger’ Tshabalala, wat net net agt jaar oud is en reeds internasionale gholf-toekennings inpalm. Hy is in sy ouderdomsgroep sewende in die wêreld en het die US Kids-gholftoernooi twee keer gewen. Ek was verheug toe graad 11-leerder Sinoyolo Qumba van Orange Farm aan my skryf oor wat in die SoNA van hierdie jaar moet wees. Sy het eindelik by ons toespraak skryfspan aangesluit in die konsepfases. Daar is passievolle aktiviste soos Ayakha Melithafa van Eerste Rivier in die Wes-Kaap, wat vanjaar die Wêreld Ekonomiese Forum in Davos bygewoon het om 'n beroep op wêreldleiers te doen om vas te staan vir klimaatgeregtigheid. Toe ek kennis gemaak het met Michelle Nkamankeng, wat op 11-jarige ouderdom Afrika se jongste skrywer is en onder die tien voorste jongste skrywers ter wêreld is, was ek verstom. Sy het sewe boeke geskryf, waarvan die eerste een reeds op die ouderdom van ses jaar die lig gesien het. Soos professor Jonathan Jansen gesê het: 'Sy is selfversekerd, welsprekend, insigryk en passievol'.Dit is hierdie jongmense wat die ware juwele van ons land se toekoms is, en wat ons daaraan herinner dat ons vryheid gewen is deur die opofferings van die jong mans en vroue wat vasberade was dat nie net hulle nie, maar ook diegene wat na hulle sou kom, in die lig van vryheid moet lewe.Ons moet aanhou om saam te werk as regering, die sakewêreld, die arbeidsektor en die burgerlike samelewing om te verseker dat die las van werkloosheid nie ons jongmense neerdruk, hul gees verpletter en hulle moedeloos maak nie. Ek is vol vertroue dat die aksies wat ons in die SoNA uiteengesit het, 'n nuwe mylpaal vir jeugontwikkeling sal verteenwoordig.Soos Frantz Fanon gesê het, dit is elke generasie se taak om sy missie te ontdek. Hierdie generasie het hulle s'n ontdek. Dit is nou ons taak om hulle te ondersteun om dit te vervul. Dit is 'n historiese feit dat 'n land se mislukking om die vermoë van sy jeug suksesvol te koester en te versterk, in die toekoms die ondergang van daardie land kan beteken.
